deur Marjorie van Heerden
April 2012 - PowerPoint praatjie - ATKV Skryfskool in Johannesburg.
Mense
vra my soms: Is al daai prentjies regtig nodig in ‘n kinderboek? Is dit nie
dalk beter vir die kind om sy of haar eie verbeelding te gebruik nie? Of het
die kind dalk die illustrasies nodig om die storie te verstaan? Ek het al baie
hieroor nagedink.
So ver
terug as 1970 het die Amerikanse futuris Alvin Toffler ‘n boek geskryf met die
naam Future Shock. Dit was die eerste
in ‘n reeks boeke waarin hy met die konsep van “future shock” gewerk het. Sy
definisie van “future shock” is: “té veel verandering in ‘n té kort periode van
tyd”. Hy kyk ook na die impak van nuwe tegnologie op indiwidue in ‘n
vinnig-veranderende wêreld. Dink net ‘n bietjie oor daardie impak op indiwidue
hier in die een-en-twintigste eeu! Op jou. Op my. Op ons kinders.
Toffler
het voorspel dat hierdie verandering, dié versnellende tempo van tegnologiese
en sosiale verandering, mense gaan oorweldig. Dat dit mense gaan laat lei aan,
wat hy noem, “shattering stress and disorientation”. Toffler het selfs so ver
gegaan as om te sê dat die meerderheid van sosiale probleme die gevolge is van
hierdie “future shock”. As ons so rondom ons kyk, lyk dit baie asof Toffler se
voorspellings waar geword het. Vandag word mense regtig gebombardeer deur die
tegnologie en deur die media. Ek is seker ons kan die simptome sien van die
“shattering stress and disorientation”, wat Alvin Toffler voorspel het.
Ons praat hoofsaaklik van die grootmense wat in hierdie moderne wêreld lewe. Maar die werklikheid is dat die meeste van hierdie “media boodskappe”, wat eintlik op grootmense gemik is, ook oor ons kinders uitgestraal word. Nou... probeer jou net vir ‘n oomblik indink wat die effek van hierdie bombardement van nuwe tegnologieë en die bombardement van die media op ‘n kind kan hê – op ‘n kind wat besig is om die lewe met groot, wyd-oop oë te ervaar en te leer ken!
Van
kleurvolle verpakkings en advertensies en advertensieborde en plakkate tot
televisie-skerms en selfone en iPhones en laptops en PC’s – dis alles deel van
die aanhoudende bombardement van baie, baie harde visuele geraas waaraan daai
wyd-oog kindertjies elke enkele dag blootgestel word! Televisies en rekenaars
word deesdae ‘n baie belangrike deel van alledaagse familie-lewe. Hulle neem selfs
‘n baie prominente plek op in baie huishoudings. En baiekeer, en dis baie, baie
jammer, gebruik grootmense die televisie of die rekenaar as ‘n gerieflike
kinder-oppasser. En dit word meer en meer algemeen. Deesdae het dit selfs deel
geword van huishoudings in die laer-inkomste groepe, waar die televisie en die
selfoon en die oorweldigende media-geraas deel geword het van mense se
alledaagse lewens. En dan ook die lewens van hulle jong kindertjies.
Natúúrlik kan mens nie ontken dat daar positiewe, selfs opvoedkundige, waarde kan wees in die gebruik van die televisie en rekenaars en so aan nie. Hierdie goed maak ons lewens meer gerieflik, hulle maak informasie makliker beskikbaar, hulle gee ons selfs ‘n mate van veiligheid... en so aan. Maar die probleem is dat jong kinders van nature soos ‘n spons is. En hulle suig alles op – goed én sleg. Ongelukkig is hulle nog te klein om self te kan onderskei.
Nog
iets: Dikwels ontwikkel vandag se jong kinders ‘n sekere deel van hulle brein
gladnie. Hulle hoef byvoorbeeld gladnie meer die vermenigvuldiging tafel uit
hulle kop te leer nie – hulle gebruik sommer ‘n rekenaar of selfs ‘n selfoon! En ‘n deeltjie van die brein
bly onder-ontwikkel. Maar daardie deeltjie van die brein het eintlik heelwat
verskillende funksies (nie net om te onthou wat nege-maal-agt of ses-maal-sewe is
nie) – belangrike funksies wat ‘n rol speel in die kind se sosiale en ander
lewens-vaardighede. En dit word nie gestimuleer en ontwikkel nie, want daardie
funksie word deur ‘n elektroniese apparaatjie oorgeneem.
Dit is
maar een, klein voorbeeldjie. Een van my groot bekommernisse is dat vandag se
kinders uitmis op noodsaaklike ontwikkeling wanneer hierdie apparate
verkeerd gebruik word, of te véél gebruik word. Kyk byvoorbeeld na wat aan die
gang is met die taal wat ons kinders praat. Maar, afgesien van taal-ontwikkeling - ek is baie meer
bekommerd oor die ontwikkeling van ons kinders se kognitiewe prosesse – noem dit “prosesse van bewussyn”. Ek praat
van prosesse wat dinge insluit soos konsentrasie-vermoë, geheue, om woorde en
begrippe regtig te verstaan, om
probleme op te los, om besluite te maak. Ek is bevrees baie van hierdie dinge kan
vandag maklik agterbly.
Natúúrlik is daar besorgde ouers wat hulle kinders probeer beskerm teen die bombardement van die visuele media en die tegnologie – ouers wat dit probeer beheer. Ongelukkig vermoed ek dat die meerderheid moderne ouers hulle kinders toelaat om verdoof te raak deur die media en tegnologiese geraas. Dis dalk deur onkunde. Dalk sê hulle, “dis maar die tyd waarin ons lewe”. Dalk is die ouers ook verslaaf aan tegnologie. Of dalk gee hulle net nie om nie...
Dink nou
aan een of twee kindertjies wat jy self ken. En onthou, ‘n dag het net 24 ure.
Wat doen daai kleintjies met daai 24 ure? Dink aan ‘n paar goed wat hulle sou kon doen, soos om met verbeelding te
speel, soos om nie-sistematies te leer, soos vrye oefeninge doen, soos
rondlê-ontspan, soos ‘n tydjie om te dink, ‘n tydjie om sommer net heeltemal
niks te doen nie, ‘n tydjie om bietjie te rus, ‘n tydjie om net te herstel...
Het daai kleintjies die tyd om hierdie dinge te doen? Het hulle die tyd om
doodgewoon ‘n kleintjie te wees? Om
doodgewoon ‘n kleuter te wees? Om
sommer net ‘n kind te wees?
‘n
Vraag: Is dit nie dalk ons – die verantwoordelike grootmense – is dit nie dalk
óns plig om daai bombardement van ons kleintjies te probeer uitbalanseer nie?
Dis ‘n vraag wat ek al jarelank mee stoei. Een van die paadjies wat ek geloop
het, was om kinder-prenteboeke te
bestudeer en om hulle in diepte te analiseer. Ek was totaal gefassineer toe ek
begin besef het wat ‘n magtige genre dit is. Ek het begin besef wat ‘n enorme
belangrike rol hulle kan speel, nie net in die ontwikkeling van ons baie jong
en wyd-oog kleintjies nie – dis voor-die-hand-liggend. Maar wat van die rol wat
hierdie prenteboeke kan speel in die sosiale
en die kognitiewe bewussyn en
ontwikkeling van die grootmense en die ouers en die leiers en die besluitnemers
van môre en oormôre! Dié wat uit hierdie kindertjies gaan groei...
Ek het eers
‘n studie gemaak van presies hoe die jong bewussyn ontwikkel. Ek het besef dat
‘n hoë-kwaliteit prenteboek baie meer kan wees as pret en plesier. En ek het
besef dat een enkele hoë-kwaliteit prenteboek ‘n rol kan speel in die vorming
van ‘n jong kind se gemoed. Ek het besef dat so ‘n boek selfs ‘n rol kan speel
om van daardie jong kindjie ‘n sensitiewe, liefdevolle grootmens te maak.
Nou wil
ek graag die name noem van net ‘n paar briljante geleerdes wat ek op my eie
ontdekkingsreis raakgeloop het:
- Ek was baie beïndruk deur Bruno Bettelheim: Hy was ‘n bekende kinder-sielkundige en skrywer. Hy het sy werke tussen die neëntien-veertigs en die negentigs gepublisser het.
- Ek was regtig gefassineer deur die geweldige diepte in die gepubliseerde werke en die kinderboeke van Ursula le Guin; Sy is ‘n briljante akademikus en sy skryf ook fantasie- en sci-fi-boeke. Sy het begin publiseer in die sestigs, toe ek nog ‘n kunsstudent by die Universiteit van Kaapstad was.
- Baie van die dinge wat ek vandag hier oor praat, het ek versamel tydens my studie van die boeke deur Joseph Schwarcz, spesifiek sy 1983 boek Ways of the Illustrator: Visual Communication in Children’s Literature en die een wat hy in 1991 gepubliseer het: The Picture Book Comes of Age: Looking at Childhood Through the Art of Illustration. Een ding wat Schwarcz neergeskryf het, het veral ‘n baie groot invloed op my eie benadering tot prenteboeke gehad – hy’t gesê: “Do not let us treat children’s literature as a well-kept garden, thus robbing it of it’s nature as a windswept field.” Ek dink dis baie goed gesê!
- En dan was daar natuurlik ook Joseph Campbell, die bekende mitoloog, skrywer en kristal-helder lektor wat so ‘n enorme invloed gehad het op George Lucas en sy Star Wars film-reeks. Ek kan nie oorbeklemtoon hoe ‘n groot invloed Campbell se idees en sy briljante insigte op my eie manier van dink en my eie werk gehad het nie. Hy’s die een wat gesê het: “...stories are the only lasting way to teach children codes of social behaviour.”
- Ek was baie beïndruk deur Bruno Bettelheim: Hy was ‘n bekende kinder-sielkundige en skrywer. Hy het sy werke tussen die neëntien-veertigs en die negentigs gepublisser het.
- Ek was regtig gefassineer deur die geweldige diepte in die gepubliseerde werke en die kinderboeke van Ursula le Guin; Sy is ‘n briljante akademikus en sy skryf ook fantasie- en sci-fi-boeke. Sy het begin publiseer in die sestigs, toe ek nog ‘n kunsstudent by die Universiteit van Kaapstad was.
- Baie van die dinge wat ek vandag hier oor praat, het ek versamel tydens my studie van die boeke deur Joseph Schwarcz, spesifiek sy 1983 boek Ways of the Illustrator: Visual Communication in Children’s Literature en die een wat hy in 1991 gepubliseer het: The Picture Book Comes of Age: Looking at Childhood Through the Art of Illustration. Een ding wat Schwarcz neergeskryf het, het veral ‘n baie groot invloed op my eie benadering tot prenteboeke gehad – hy’t gesê: “Do not let us treat children’s literature as a well-kept garden, thus robbing it of it’s nature as a windswept field.” Ek dink dis baie goed gesê!
- En dan was daar natuurlik ook Joseph Campbell, die bekende mitoloog, skrywer en kristal-helder lektor wat so ‘n enorme invloed gehad het op George Lucas en sy Star Wars film-reeks. Ek kan nie oorbeklemtoon hoe ‘n groot invloed Campbell se idees en sy briljante insigte op my eie manier van dink en my eie werk gehad het nie. Hy’s die een wat gesê het: “...stories are the only lasting way to teach children codes of social behaviour.”
Ek dink
dit sou wonderlik wees as ons kinders van vandag – daai kindertjies wat eendag
die grootmense en die leiers van ons land moet word – as hulle werklik die
kodes kan leer van sosiale gedrag! ... Die kodes van beskaafde sosiale gedrag en optrede. En Campbell sê dat as die
kinders daardie kodes en waardes vir die res van hulle lewe gaan uitleef, dan
moet hulle dit kleintyd deur middel van stories
leer. “...stories are the only lasting
way to teach children codes of social behaviour.” Hierdie is so ‘n enorme
onderwerp dat ek amper ‘n bietjie hierby wil vassteek, maar ongelukkig het ons
nie genoeg tyd nie – kom ons los dit vir ‘n ander dag.
Hierdie
slim mense het my wêreldjie vir my help oopmaak – hulle het my gehelp om
ontslae te raak van die beperkings en van die grenslyne.
En dit
bring my nou spesifiek by die belangrikheid van illustrasies in kinderboeke.
Elke pasgebore babatjie is soos ‘n skoon vel wit papier – gereed vir die grootmense
om op te begin skryf. En dan word daardie jong, oop en honger klein verstandjie,
reg van die begin af, gebombardeer met boodskappe, soos ek vroeër gesê het,
dikwels met die visuele geraas van die media en die tegnologie. Máár... wat daarvan as ons, as jý, daardie bombardement kan uitbalanseer, of selfs kan onderskep?
Die
skeppende kunstenaar wat spesifiek fokus op die jong kind, aanvaar by
implikasie die verantwoordelikheid om die ouers en die kinder-versorgers te
ondersteun met die vorming van jong gees, die jong verstand, die jong gemoed.
En ook die verantwoordelikheid om die kleintjies te help ontdek en te help
ontwikkel. Jong kinders leer op ‘n subtiele, natuurlike manier, amper intuïtief,
terwyl mens hulle van die opwindende en onvergeetlike aksies en die avonture
van die karakters in die stories vertel, en hulle dit sélf ervaar en deurleef
terwyl hulle met groot ogies en opgehoue asem en met ‘n klop-kloppende hartjie
ervaar. En ek moet beklemtoon, hierdie sogenaamde “opvoedkundige” taak mag
nooit aangepak word ten kóste van pret en plesier nie, van wonder en opwinding
nie – van daai groot ogies en opgehoue
asem waarvan ek praat, nie. Die kinderboek en meer spesifiek, die
prenteboek vir die kleintjies, is een van die min kunsvorms wat juis met die
kind in gedagte beoefen word. En, in my ervaring word hierdie kunsvorm feitlik altyd beoefen deur mense wat regtig vir
die kind omgee, en vir die kind se belange, en uiteindelik vir die grootmens en
die toekomstige ouer wat eendag uit daardie kind na vore gaan kom. Die soort
kinderboek waarvan ek hier praat, het regtig die potensiaal om daai geweldige
bombardement kragtig te balanseer, teen te werk, en selfs te ontlont.
Daai
tydjie wanneer die kleintjie ‘n prenteboek lees, of as dit vir haar gelees word
in die veligheid van haar ouer of oppasser of onderwyser se arms, is soos ‘n
veilige eilandjie in ‘n wye en chaotiese oseaan – ‘n tydjie van kalmte. Die
informasie kan sonder vrees ingeneem en verteer word, en, in die kind se eie
tyd – met groot ogies en opgehoue asem.
Byvoorbeeld:
‘n Kind met ‘n probleem, of dit nou ‘n regte probleem of ‘n verbeelde probleem
is, kán troos en sterkte kry as hy of sy kan lees oor ‘n ander kindjie, of selfs ‘n diertjie, wat in dieselfde situasie is.
Dan kan hy of sy ook die innerlike krag opbou om soortgelyke situasies vorentoe
te hanteer.
Die
kleuter kan leer om vrese te hanteer – vrese soos Waar’s my Mammie? of Daar is
‘n monster onder my bed! Sodoende kan hy dan die sekuriteit kry wat gaan
help om hom vorentoe te neem na sy volgende stadium van ontwikkeling.
Die
kleintjie, met die hulp van die regte stories of kinderboeke, kan leer hoe om
die skool-boelie te hanteer. As hierdie kleintjie dan die les behoorlik geleer
en vir die toekoms geabsorbeer het, dan sal daardie selfde mensie, later in sy
of haar lewe, weet hoe om verskeie situasies beter te hanteer; hoe om
vooroordeel te hanteer, of mishandeling, of rassisme, of hoe om met die wêreld
rondom ons om te gaan, met die natuur, met mense wat oënskynlik anders is as
jy. Hy of sy kan leer van geduld, verdraagsaamheid, vrese, onsekerhede, skuld
en onskuld, self-respek, self-vertroue
- nóg ‘n eindelose lys.
As mens
in gedagte hou dat elke skrywer en elke illustreerder self eendag ‘n kind was,
en dat hulle gewoonlik uit persoonlike ervarings en uit eie herinneringe put,
dan verstaan mens hoekom daar ‘n toepaslike geïllustreerde storie is vir feitlik elke situasie waarin die jong kind hom of
haar kan bevind.
Met dit
alles in gedagte, kom ons kyk vir ‘n oomblik na die estetiese ontwikkeling van
die jong kind. Ek praat nou van wat algemeen bekend staan as “goeie smaak”.
Prenteboeke
speel sonder enige twyfel ‘n rol in die estetiese ontwikkeling van jong
kinders. Ek het gepraat oor die ontwikkeling van ‘n sosiale en ‘n kognitiewe
bewussyn en die aanleer van kodes van sosiale gedrag en optrede, maar daardie
kinders wat gelukkig genoeg is om met stories groot te word en met
hoë-kwaliteit geïllustreerde prenteboeke, sal ook ‘n visuele gevoel ontwikkel van hoe om ruimte en gestalte en vorm te
gebruik – hulle mag selfs, soos hulle groter word, goeie smaak ontwikkel...
Hierdie
kinders sal ook ‘n visuele
geletterdheid ontwikkel, wat in die regte wêreld netso belangrik is as verbale geletterdheid. En as ‘n mens
regtig, volledig geletterd gaan wees,
dan moet jy ook visuele simbole en visuele boodskappe vlot kan lees, en nie
net woorde nie.
Maar
daar is selfs meer: deur die spontane
interaksie met die estetiese eienskappe en die skoonheid van ‘n illustrasie,
kom daar ook ‘n sekere bevryding – dis asof jy binne-in die prent in ontsnap en
die wrede ou wêreld buite los. ... Ontsnap - en dan ervaar die kind ‘n ander
wêreld, ‘n wêreld wat verby die grense van die kind se eie omgewing strek en
verby sy of haar eie klein verwysings-wereldjie. Om te ontsnap ... om jou gedagtes te
verbreed. Weereens, vir die kleintjies, is dit net moontlik deur die visuele beelde.
Die illustrasies help die teks om die storie ‘n werklikheid te maak.
‘n
Illustrasie in ‘n kinderboek dra informasie en emosie op ‘n unieke wyse oor.
Dit kan selfs help met die vermoë van ‘n groeiende kind om sy of haar eie kreatiwiteit
te ontwikkel en sodoende, uiteindelik die vermoë om lateraal te kan dink. Dit
kan ‘n rol speel in die kind se ontwikkeling van eie-inisiatief-vaardighede.
As die kleintjie, byvoorbeeld, ‘n sekere waardigheid raaksien in ‘n karakter
wat met estetiese skoonheid gïllustreer word, dan kan dit help met ‘n proses
van humanisering in die kind se jong gemoed. Só kan die illustrasies in ‘n
kinderboek bydra tot die ontwikkeling van ‘n sekere menslikheid in die indiwiduele jong leser se ontluikende persoonlikheid.
Deur die manier waarop die
illustreerder die onderwerp hanteer, deur subtiele kommunikasie van informasie
en emosie, kan die illustrasie selfs negatiewe stereotipiese boodskappe en
etikette waaraan die kind blootgestel is, ontlont en teenwerk. ‘n Bekende
voorbeeld wat in baie kinderstories na vore kom, is die ou aanname: “Alles wat
mooi is, is goed, en alles wat lelik is, is sleg.” Maar selfs ‘n baie jong
kindjie, as hy of sy ‘n goed-geïllustreerde uitgawe lees van die ou sprokie oor
Beauty and the Beast, sal hulle
gou-gou leer dat dit doodgewoon nie waar is nie.
Nog ‘n
voorbeeld is hoe jong lesertjies, deur sensitiewe illustrasies in ‘n boek,
bewus kan raak van die fisieke skoonheid van die natuur en die wêreld rondom
ons. Hulle kan ook leer van sy kwesbaarheid. Hierdie jong lesertjies mag dan ‘n
gesonde respek en ‘n liefde vir die omgewing ontwikkel – Ou Moeder Aarde het
deesdae ‘n bietjie gesonde respek nogal broodnodig... Dit kan natúúrlik ook
gedoen word deur die kinders op natuur-uitstappies te neem, of om vir hulle
goeie dokumentêre films te wys, of deur ander media te gebruik, maar ek het al
gesien wat die impak van ‘n hoë-kwaliteit geïllustreerde kinderboek op ‘n
sensitiewe jong mensie kan wees. Ek is geneig om met Joseph Campbell saam te
stem wanneer hy sê: “...stories are the
only lasting way to teach children codes of social behaviour.” En ek wil onderstreep: ...the only lasting way to teach children codes of social behaviour.”
En hierdie sosiale gedrag, of optrede, sluit tog sekerlik die kind se gedrag in
teenoor Moeder Natuur en háár wêreld.
Nou wil
ek graag ‘n paar oomblikke gebruik om te kyk na hoe ‘n jong kind eintlik sien. Presies hoe sien hulle iets as hulle daarna kyk?
Die
illustrasies in kinderboeke is gewoonlik twee-dimensioneel. En as ons wil
verstaan hoe kinders hierdie twee-dimensionele beelde sien, dan moet ons eers
kyk na hoe ons, grootmense, sien. Om meer hieroor te verstaan, het ek gaan kyk
na die werk van Donald Weisman. Hy’s ‘n professor van Kuns by die Universiteit
van Texas. Hy is ook ‘n skilder en ‘n kuns-historikus. En Professor Weisman het geweldig baie
navorsing gedoen oor presies hierdie onderwerp : Ons visuele persepsie. Met
ander woorde, Hoe sien ons iets? In
1970 het hy ‘n fassinerende boek oor die onderwerp gepubliseer, onder die
titel: The Visual Arts as Human
Experience.
Weisman
beskryf drie verskillende maniere van sien – “vlakke”, of “wyses” of “maniere” van sien: 1) funksioneel, 2)
assosierend, en 3) suiwer. Kom ons kyk nader na die drie maniere van sien:
-
By die eerste, die “funksionele” manier
van sien, is daar geen spesifieke idees of herinneringe wat betrekking het op
die voorwerp wat gesien word nie. En die voorwerp word ook nie verder ondersoek
nie. ‘n Voorbeeld van hierdie manier van sien, is wanneer iemand ‘n bal sien
wat besig is om na hom aangerol te kom. Hy dink, “Ek moet versigtig wees,
anders val ek dalk oor hom!” Hierdie manier van sien, kyk die heeltyd na die toekoms.
Weisman noem dit die funksionele
manier van sien.
-
By die tweede, die “assosierende” manier
van sien, word ‘n hele kettingreaksie losgelaat wanneer die siener die
voorwerp wat gesien word met ‘n woord of ‘n herinnering assosieer. Om weer die
bal-voorbeeld te gebruik: Die voorwerp wat gesien word, word onmiddellik gekoppel
aan die woord “bal”. Jy sien die bal, en uit jou herinneringe onthou jy,
moontlik met plesier, hoe jy met so ‘n bal gespeel het. – Hierdie manier van
sien kyk die heeltyd na, en versamel
uit, die verlede. Weisman noem dit die assosierende manier van sien.
-
By die derde, die “suiwer” manier van
sien, is ons geïnteresseerd in die estetiese eienskappe van die voorwerp wat
gesien word. Hierdie manier van sien is ‘n leer-proses, ‘n ontdekkings-proses
deur die waarnemning van die funksies, die eienskappe, die kenmerke van die
voorwerp. Die “suiwer” manier van sien aktiveer ook emosionele reaksie. Ek
gebruik weer die balvoorbeeld: Die een wat sien se reaksie is dalk, “Daardie
bal gly met grasie op my af!” OF “Die vorm is ‘n perfekte sfeer!” Hierdie
manier van sien, kyk die heeltyd na die hede, die nóú. Weisman
noem dit die suiwer manier van sien.
En, baie interessant, dís die die manier waarop ons kuns sien as ons daarna
kyk.
Om op te
som: By die funksionele manier van
sien, kyk ons na die toekoms. By die assosierende
manier van sien, kyk ons na die verlede. En, by die suiwer manier van sien, kyk ons na die situasie in die hede,
die nóú.
Die
meeste grootmense, wanneer hulle kyk, gebruik meestal aldrie die maniere
van sien gelyktydig. Maar gewoonlik, hoofsaaklik as gevolg van al die visuele
geraas en die media-geraas, onderdruk die meeste grootmense die derde manier
van sien, die suiwer manier – hulle
doen dit bewustelik of onbewustelik. Soos Weisman dit stel: “One hasn’t the
time to sit down and smell the flowers”. Die probleem is dan dat hierdie
grootmense geen detail raaksien nie, want hulle is te besig om informasie in te
samel en om vooruit te kyk – terwyl hulle na iets kyk, in plaas daarvan om ook suiwer te sien, is hulle brein besig met
ander dinge.
Dis baie
interessant om te sien dat meer en meer grootmense vandag eintlik besig is om
te probeer om weer “to sit down and smell
the flowers” Hulle noem dit “awareness” – om die oomblikte ervaar – om
ontslae te raak van al die chaos – om ‘n slag net weer te sien. ‘n Toestand van suiwer bewustheid. Dit vat ons heelpad terug
na die dae van die hippies – daai dae toe ek ook een was! Daar is regtig ‘n
baie eenvoudiger manier om na dit alles te kyk: Gebruik doodgewoon al jou
sintuie ten volle!
Nou
- jong kinders gebruik instinktief al
hulle sintuie. En Professor Weisman se navorsing het gevind dat die kleintjies
die derde manier van sien, die suiwer
manier van sien, baie meer gebruik as die funksionele of die assosierende
maniere van sien. Hulle zoom onmiddellik in op die detail, en hulle reaksie op
‘n illustrasie is suiwer emosioneel. En mens moet onthou dat emosie ‘n geweldige
belangrike rol speel in die estetiese verwerking van iets. Die lesertjie
identifiseer met die sentrale karakter, of dit nou ‘n kind is, of ‘n dier, of
selfs ‘n ander kreatuur – en dan ervaar hulle die hele tyd die storie sáám met
hierdie karakter, en in regte tyd. Maar, omdat dit ‘n twee-dimensionele
visuele beeld is, en omdat dit nie by hom of haar verbyflits nie, ervaar die kind die storie deur middel van die illustrasie, en teen sy of haar eie, natuurlike
pas – teen sy of haar eie, innerlike ritme.
Kom ons
kyk nou na ‘n paar duidelike, tasbare elemente van geïllustreerde kinderboeke:
Die geïllustreerde kinderboek is ‘n spesiale soort visuele kommunikasie wat
deur grootmense geskep is, maar wat spesifiek geskep is met die kind in
gedagte. Dit is dus een van die min kunsvorms waar volwassenes informasie vat
en dit omskep in materiaal wat verteerbaar is spesifiek vir die jong kind.
‘n Belangrike
element van hierdie geïllustreerde kinderboeke is dan ook dat hulle gebruik anders is as dié van formele
teksboeke. Hulle bied ander moontlikhede.
Byvoorbeeld, hierdie geïllustreerde kinderboeke word nie normaalweg gekoppel
aan ‘n gegewe tyd of plek– soos die klaskamer – nie. Hulle kan enige tyd nader
getrek word – die kind is in beheer! En, baie belangrik, daar is geen beperking
op hoe lank of hoe kort die kind die visuele beelde in die geïllustreerde
boek kan ervaar nie. Het jy al ooit ‘n kleintjie dopgehou wat totaal verdiep is
in ‘n prenteboek – totaal ingetrek in die wêreld van een enkele illustrasie?
Wanneer
mens ‘n boek optel, enige boek, dan is jou heel eerste indruk die illustrasie
(as daar een is) op die buiteblad. In die geval van ‘n geïllustreerde
kinderboek, is dit die emosionele prikkel van die tekening op die buiteblad wat
die kind in die boek intrek. Die buiteblad moet die storie reflekteer, maar dit
moet ook ‘n element van misterie hê, wat die potensiële lesertjie gaan aantrek
en gaan laat wonder. Vir my is ‘n buiteblad altyd bietjie soos ‘n plakkaat –
dit moet van ver af aandag trek, en as dit dan van nader bekyk word, moet daar
so ‘n bietjie toordery aangaan... Die onderwerp, die figuur of figure, die
vorms, die kleure, moet die kind uitnooi om die boek oop te maak en te probeer
verstaan waaroor dit alles gaan en wat
dit beteken. Binne-in die boek moet die eerste prentjie lei na die teks, na die
storie, en ván die teks, na die volgende prentjie, en so aan... Dan neem die
pas en die ritme van die teks en die prentjies oor, en die kind word al met die
storielyn langs gedra, tot by die finale ontknoping.
Wanneer
ek begin om ‘n prenteboek vir ‘n storie te beplan, dan besluit ek heel eerste
oor die grootte en die formaat. Die mees algemene formate is
“portrait”, “landscape” en “square”, maar daar is natuurlik al die ander
formate tussen-in ook. Normaalweg laat ek my deur die storie lei –die storie se
ritme en sy energie laat my intuïtief aanvoel watter formaat ek moet gebruik.
Daar is geen vaste reëls nie, maar gewoonlik dui die storie self vir my aan
watter formaat om te gebruik. Byvoorbeeld, as die storie oor die sterre gaan,
dan vind ek gewoonlik ‘n “portrait”-formaat die beste. Of, sê maar die storie
gaan oor ‘n reis... dis dalk ‘n fisieke reis. Of dalk ‘n geestelike reis. Of
dalk het die storie regtig ‘n vinnige pas, en dit beweeg vinnig vooruit... Dan
vind ek dat die “landscape”-formaat gewoonlik die beste werk. En as die storie
intiem of saggies of stil is, dan vind ek dikwels dat die “square”-formaat goed
gaan werk. Die storie vertel my self
in watter formaat dit graag vertel wil word. Dieselfde geld vir die grootte van die boek: Wil die storie
graag vertel word in ‘n groot, luidrugtige, dramatiese boek? Of wil dit graag
‘n kleiner, meer intieme, stiller
ervaring wees?
Die
volgende ding om te beplan, is presies hóé die storie oor die volgorde van
bladsye gaan ontwikkel en gaan afspeel. Onthou, ‘n prenteboek is nie net ‘n verstandelike ervaring nie; dit is ook fisieke ervaring. Die hantering en die
omblaai van die bladsy, vorentoe óf agtertoe, is deel van daardie ervaring. Die
kind ervaar onmiddellik die drama van die boek se grootte en formaat, en dan
word die omblaai van die bladsye deel van die opwinding van die ontvouende
storie. Die prenteboek-illustreerder teken nie net prentjies om die teks van ‘n
storie te dekoreer nie, hy of sy ontwerp ‘n hele boek – ‘n boek wat ‘n vlieënde
tapyt gaan word wat die jong lesertjie dwarsdeur die hele storie gaan vervoer
en meevoer. Om te kan besluit watter deel van die teks op watter bladsy gaan
pas, moet jy mooi kyk na die sleutel-elemente van die storie en bepaal presies
hoe hulle gaan inpas in die vasgestelde aantal bladsye wat die boek gaan hê.
Die gang, die visuele ritme van ‘n
prenteboek speel dikwels ‘n sleutelrol in die boek se sukses of mislukking –
die illustreerder van ‘n storie word soos ‘n musikant wat ‘n stuk musiek vertolk; sagter speel en harder,
sterker speel en minder sterk. Of soos ‘n film-maker
wat ‘n draaiboek skiet, wat in-zoom
of wat uit-zoom, wat losweg sny of
wat minder losweg sny... Die illustreerder gebruik kleur en vorm en ruimte om
die leser dwarsdeur die reeks bladsye te lei, heelpad, tot by die storie se
finale ontknoping.
Dit is
dus duidelik dat die illustrasies in ‘n kinderboek, of in ‘n prenteboek vir
kinders, die storie na die volgende vlak moet dra. Die verhouding tussen die
woorde en die prente is kompleks. Maar dit is ook uniek. Die woorde en die
prente moet mekaar altyd aanvul – nooit dupliseer nie. Moet nooit in woorde sê
wat sterker deur ‘n illustrasie gesê kan word nie. En moet nooit illustreer wat
sterker in woorde gesê kan word nie.
Kom ons
kyk nou kortliks na ‘n paar verskillende soorte kinderboeke. En kom ons spring
weg met prenteboeke en geïllustreerde storieboeke.
In ‘n
perfek-geskonstrueerde prenteboek kan
die woorde nie alleen staan nie, en die prente ook nie – hulle is totaal
afhanklik van mekaar. Die prente is nie volledig nie, en die woorde ook nie,
totdat hulle saamgebring word. Eers
wanneer hulle saam staan, dán vertel
hulle die hele storie – dan maak hulle die magic!
Maar die geïllustreerde
storieboek, is heeltemal iets anders; Al is daar moontlik ‘n illustrasie op
elke bladsy, kan die storie hier op sy eie staan. Dit kán, sonder die illustrasies, gelees word en verstaan word. Die
illustrasies word hier bygesit om visueel ‘n gevoel van plek en van ruimte te
skep en ook om die teks verder aan te vul.
Soos die
kinders groter word, beweeg hulle aan, van die storieboek na die leesboek.
Leesboeke is baie soos storieboeke en ook dikwels volledig geïllustreer, maar
in húlle word die teks baie versigtig geskryf, spesifiek met die oog daarop om
die kind te help om self te leer lees.
En dan,
soos die kinders nóg groter word, beweeg hulle aan, van leesboeke na hoofstuk-boeke. Nou word die boeke
langer, die lettergrootte word kleiner, die stories word meer-en-meer
ingewikkeld en die illustrasies word al minder.
Daar is
‘n genre wat vir my, persoonlik, baie
opwindend is. Dit is die prenteboek vir
ouer kinders. Hierdie boeke dek dikwels taamlik ingewikkelde onderwerpe.
Ek het al baie van hulle gesien wat pragtig geïllustreer is. Al mag die
spesifieke onderwerp dalk ingewikkeld en uitdagend wees, is daar gelukkig baie
sensitiewe en hoogs-bekwame skrywers en illustreerders wat hierdie boeke heel
toeganklik en goed verteerbaar maak vir die jong lesertjies.
Om af te
sluit: Daar is baie verskillende tipes geïllustreerde boeke wat spesifiek
bedoel is vir kinders. Ek het hier probeer fokus op die verskillende funksies
van die illustrasies in die verskillende tipes kinderboeke. Maar, wat die tipe
ookal is, die illustreerder het ‘n sleutelrol om te speel in die skepping van
daai boek. En, veral in die geïllustreerde
storieboek en die prenteboek is die illustrasies ‘n groot
rol.
Die
vraag is al baiekeer vir my gevra: Hoe weet jy of ‘n illustrasie goeie
kwaliteit is? En dis natuurlik iets waaroor ek al baie diep nagedink het...
Oor die
jare het ek ‘n hele paar kinderboek-illustreerders raakgeloop wie se werk ‘n
groot indruk op my gemaak het. Hulle is kollegas wat ek bewonder. Ek bewonder hulle oorspronklikheid, hulle
verbeeldingskrag, die diepte in hulle werk, en veral die feit dat hulle hulle
werk doen spesifiek vir die kind – of
dit alles nou bewustelik is, of onbewustelik.
Ek het
die briljantheid gesien in die eenvoud van hulle werk. Ek het die ritme
raakgesien en ek het die kragtige verhaal ontdek wat opgesluit lê in die beelde
wat hulle skep .. in die min woorde ... die moedige kreatiwiteit van hulle
werk.
Maar die
één, enkele element wat die sterkste vir my uitstaan, is dat hulle illustrasies
altyd lyk asof hulle lewe. Dit is die
passie van hierdie illustreerders wat
duidelik uitgestraal word uit die illustrasies wat hulle maak – asof daardie
passie opgeneem word in die visuele beeld en dit laat lewe.
Daai passie waarvan ek praat, word, op een of
ander manier, ‘n energie wat duidelik
in hulle werk weerspieël word, of hulle nou net ‘n paar lyntjies gebruik
(soos Shel Silverstein of Quentin Blake), en of hulle nou luukse
en weelderige, kleurvolle illustrasies skep (soos Trina Schart Hyman of David
Wiesner). ...
Dis nie
‘n maklike vraag om te beantwoord nie, maar as ek ‘n kort antwoord kan gee, dan sou ek sê: Laat ‘n kind jou vertel of die illustrasie goed is of nie. My vier-jaar-oud-klieindogter sit eendag en sy kyk vir ‘n baie lang tyd na dieselfde
illustrasie in een van haar prenteboeke. En uiteindelik, sonder dat sy opkyk,
vra sy saggies, “Ouma, is dit lewendig?” En toe weet ek dat die illustrasie ‘n goeie een is. My tweede,
drie-jaar-oud kleindogterjie, raak nou-die-dag totaal verdiep in ‘n
illustrasie. Sy’t lank gesit en daarna gekyk. En, uiteindelik, na ‘n hele ruk,
toe sy omblaai, toe trek sy haar asem in ... en toe fluister sy, “wow!”
Baie dankie.