Die Rol van Illustrasies in Kinderboeke



deur Marjorie van Heerden
 April 2012 - PowerPoint praatjie - ATKV Skryfskool in Johannesburg.



Mense vra my soms: Is al daai prentjies regtig nodig in ‘n kinderboek? Is dit nie dalk beter vir die kind om sy of haar eie verbeelding te gebruik nie? Of het die kind dalk die illustrasies nodig om die storie te verstaan? Ek het al baie hieroor nagedink.



So ver terug as 1970 het die Amerikanse futuris Alvin Toffler ‘n boek geskryf met die naam Future Shock. Dit was die eerste in ‘n reeks boeke waarin hy met die konsep van “future shock” gewerk het. Sy definisie van “future shock” is: “té veel verandering in ‘n té kort periode van tyd”. Hy kyk ook na die impak van nuwe tegnologie op indiwidue in ‘n vinnig-veranderende wêreld. Dink net ‘n bietjie oor daardie impak op indiwidue hier in die een-en-twintigste eeu! Op jou. Op my. Op ons kinders.

Toffler het voorspel dat hierdie verandering, dié versnellende tempo van tegnologiese en sosiale verandering, mense gaan oorweldig. Dat dit mense gaan laat lei aan, wat hy noem, “shattering stress and disorientation”. Toffler het selfs so ver gegaan as om te sê dat die meerderheid van sosiale probleme die gevolge is van hierdie “future shock”. As ons so rondom ons kyk, lyk dit baie asof Toffler se voorspellings waar geword het. Vandag word mense regtig gebombardeer deur die tegnologie en deur die media. Ek is seker ons kan die simptome sien van die “shattering stress and disorientation”, wat Alvin Toffler voorspel het.


Ons praat hoofsaaklik van die grootmense wat in hierdie moderne wêreld lewe. Maar die werklikheid is dat die meeste van hierdie “media boodskappe”, wat eintlik op grootmense gemik is, ook oor ons kinders uitgestraal word. Nou... probeer jou net vir ‘n oomblik indink wat die effek van hierdie bombar­dement van nuwe tegnologieë en die bombardement van die media op ‘n kind kan hê – op ‘n kind wat besig is om die lewe met groot, wyd-oop oë te ervaar en te leer ken!

Van kleurvolle verpakkings en advertensies en advertensieborde en plakkate tot televisie-skerms en selfone en iPhones en laptops en PC’s – dis alles deel van die aanhoudende bombardement van baie, baie harde visuele geraas waar­aan daai wyd-oog kindertjies elke enkele dag blootgestel word! Televisies en rekenaars word deesdae ‘n baie belangrike deel van alledaagse familie-lewe. Hulle neem selfs ‘n baie prominente plek op in baie huishoudings. En baiekeer, en dis baie, baie jammer, gebruik grootmense die televisie of die rekenaar as ‘n gerieflike kinder-oppasser. En dit word meer en meer algemeen. Deesdae het dit selfs deel geword van huishoudings in die laer-inkomste groepe, waar die televisie en die selfoon en die oorweldigende media-geraas deel geword het van mense se alledaagse lewens. En dan ook die lewens van hulle jong kindertjies.


Natúúrlik kan mens nie ontken dat daar positiewe, selfs opvoedkundige, waarde kan wees in die gebruik van die televisie en rekenaars en so aan nie. Hierdie goed maak ons lewens meer gerieflik, hulle maak informasie makliker beskikbaar, hulle gee ons selfs ‘n mate van veiligheid... en so aan. Maar die probleem is dat jong kinders van nature soos ‘n spons is. En hulle suig alles op – goed én sleg. Ongelukkig is hulle nog te klein om self te kan onderskei.

Nog iets: Dikwels ontwikkel vandag se jong kinders ‘n sekere deel van hulle brein gladnie. Hulle hoef byvoorbeeld gladnie meer die vermenigvuldiging tafel uit hulle kop te leer nie – hulle gebruik sommer ‘n rekenaar of selfs ‘n selfoon! En ‘n deeltjie van die brein bly onder-ontwikkel. Maar daardie deeltjie van die brein het eintlik heelwat verskillende funksies (nie net om te onthou wat nege-maal-agt of ses-maal-sewe is nie) – belangrike funksies wat ‘n rol speel in die kind se sosiale en ander lewens-vaardighede. En dit word nie gestimuleer en ontwikkel nie, want daardie funksie word deur ‘n elektroniese apparaatjie oor­geneem.

Dit is maar een, klein voorbeeldjie. Een van my groot bekommernisse is dat vandag se kinders uitmis op noodsaaklike ontwikkeling wanneer hierdie apparate verkeerd gebruik word, of te véél gebruik word. Kyk byvoorbeeld na wat aan die gang is met die taal wat ons kinders praat. Maar, afgesien van taal-ontwikkeling - ek is baie meer bekommerd oor die ontwikkeling van ons kinders se kognitiewe prosesse – noem dit “prosesse van bewussyn”. Ek praat van prosesse wat dinge insluit soos konsentrasie-vermoë, geheue, om woorde en begrippe regtig te verstaan, om probleme op te los, om besluite te maak. Ek is bevrees baie van hierdie dinge kan vandag maklik agterbly.


Natúúrlik is daar besorgde ouers wat hulle kinders probeer beskerm teen die bombardement van die visuele media en die tegnologie – ouers wat dit probeer beheer. Ongelukkig vermoed ek dat die meerderheid moderne ouers hulle kinders toelaat om verdoof te raak deur die media en tegnologiese geraas. Dis dalk deur onkunde. Dalk sê hulle, “dis maar die tyd waarin ons lewe”. Dalk is die ouers ook verslaaf aan tegnologie. Of dalk gee hulle net nie om nie...

Dink nou aan een of twee kindertjies wat jy self ken. En onthou, ‘n dag het net 24 ure. Wat doen daai kleintjies met daai 24 ure? Dink aan ‘n paar goed wat hulle sou kon doen, soos om met verbeelding te speel, soos om nie-sistematies te leer, soos vrye oefeninge doen, soos rondlê-ontspan, soos ‘n tydjie om te dink, ‘n tydjie om sommer net heeltemal niks te doen nie, ‘n tydjie om bietjie te rus, ‘n tydjie om net te herstel... Het daai kleintjies die tyd om hierdie dinge te doen? Het hulle die tyd om doodgewoon ‘n kleintjie te wees? Om doodgewoon ‘n kleuter te wees? Om sommer net ‘n kind  te wees?



‘n Vraag: Is dit nie dalk ons – die verantwoordelike grootmense – is dit nie dalk óns plig om daai bombardement van ons kleintjies te probeer uitbalanseer nie? Dis ‘n vraag wat ek al jarelank mee stoei. Een van die paadjies wat ek geloop het, was om kinder-prenteboeke te bestudeer en om hulle in diepte te analiseer. Ek was totaal gefassineer toe ek begin besef het wat ‘n magtige genre dit is. Ek het begin besef wat ‘n enorme belangrike rol hulle kan speel, nie net in die ontwikkeling van ons baie jong en wyd-oog kleintjies nie – dis voor-die-hand-liggend. Maar wat van die rol wat hierdie prenteboeke kan speel in die sosiale en die kognitiewe bewussyn en ontwikkeling van die grootmense en die ouers en die leiers en die besluitnemers van môre en oormôre! Dié wat uit hier­die kindertjies gaan groei...

Ek het eers ‘n studie gemaak van presies hoe die jong bewussyn ontwikkel. Ek het besef dat ‘n hoë-kwaliteit prenteboek baie meer kan wees as pret en plesier. En ek het besef dat een enkele hoë-kwaliteit prenteboek ‘n rol kan speel in die vorming van ‘n jong kind se gemoed. Ek het besef dat so ‘n boek selfs ‘n rol kan speel om van daardie jong kindjie ‘n sensitiewe, liefdevolle grootmens te maak.

Nou wil ek graag die name noem van net ‘n paar briljante geleerdes wat ek op my eie ontdekkingsreis raakgeloop het: 

-    Ek was baie beïndruk deur Bruno Bettelheim: Hy was ‘n bekende kinder­-sielkundige en skrywer. Hy het sy werke tussen die neëntien-veertigs en die negentigs gepublisser het. 
-    Ek was regtig gefassineer deur die geweldige diepte in die gepubli­seerde werke en die kinderboeke van Ursula le Guin; Sy is ‘n briljante akademikus en sy skryf ook fantasie- en sci-fi-boeke. Sy het begin publiseer in die sestigs, toe ek nog ‘n kunsstudent by die Universiteit van Kaapstad was. 
-    Baie van die dinge wat ek vandag hier oor praat, het ek versamel tydens my studie van die boeke deur Joseph Schwarcz, spesifiek sy 1983 boek Ways of the Illustrator: Visual Communication in Children’s Literature en die een wat hy in 1991 gepubliseer het: The Picture Book Comes of Age: Looking at Childhood Through the Art of Illustration. Een ding wat Schwarcz neergeskryf het, het veral ‘n baie groot invloed op my eie bena­dering tot prenteboeke gehad – hy’t gesê: “Do not let us treat children’s literature as a well-kept garden, thus robbing it of it’s nature as a wind­swept field.” Ek dink dis baie goed gesê! 
-    En dan was daar natuurlik ook Joseph Campbell, die bekende mitoloog, skrywer en kristal-helder lektor wat so ‘n enorme invloed gehad het op George Lucas en sy Star Wars film-reeks. Ek kan nie oorbeklemtoon hoe ‘n groot invloed Campbell se idees en sy briljante insigte op my eie manier van dink en my eie werk gehad het nie. Hy’s die een wat gesê het: “...stories are the only lasting way to teach children codes of social behaviour.”



Ek dink dit sou wonderlik wees as ons kinders van vandag – daai kindertjies wat eendag die grootmense en die leiers van ons land moet word – as hulle werklik die kodes kan leer van sosiale gedrag! ... Die kodes van beskaafde sosiale gedrag en optrede. En Campbell sê dat as die kinders daardie kodes en waardes vir die res van hulle lewe gaan uitleef, dan moet hulle dit kleintyd deur middel van stories leer. “...stories are the only lasting way to teach children codes of social behaviour.” Hierdie is so ‘n enorme onderwerp dat ek amper ‘n bietjie hierby wil vassteek, maar ongelukkig het ons nie genoeg tyd nie – kom ons los dit vir ‘n ander dag.

Hierdie slim mense het my wêreldjie vir my help oopmaak – hulle het my gehelp om ontslae te raak van die beperkings en van die grenslyne.




En dit bring my nou spesifiek by die belangrikheid van illustrasies in kinder­boeke. Elke pasgebore babatjie is soos ‘n skoon vel wit papier – gereed vir die grootmense om op te begin skryf. En dan word daardie jong, oop en honger klein verstandjie, reg van die begin af, gebombardeer met boodskappe, soos ek vroeër gesê het, dikwels met die visuele geraas van die media en die tegnologie. Máár...  wat daarvan as ons, as jý, daardie bombardement kan uitbalanseer, of selfs kan onderskep?

Die skeppende kunstenaar wat spesifiek fokus op die jong kind, aanvaar by implikasie die verantwoordelikheid om die ouers en die kinder-versorgers te ondersteun met die vorming van jong gees, die jong verstand, die jong gemoed. En ook die verantwoordelikheid om die kleintjies te help ontdek en te help ontwikkel. Jong kinders leer op ‘n subtiele, natuurlike manier, amper intuïtief, terwyl mens hulle van die opwindende en onvergeetlike aksies en die avonture van die karakters in die stories vertel, en hulle dit sélf ervaar en deurleef terwyl hulle met groot ogies en opgehoue asem en met ‘n klop-kloppende hartjie ervaar. En ek moet beklemtoon, hierdie sogenaamde “opvoedkundige” taak mag nooit aangepak word ten kóste van pret en plesier nie, van wonder en opwinding nie – van daai groot ogies en opgehoue asem waarvan ek praat, nie. Die kinder­boek en meer spesifiek, die prenteboek vir die kleintjies, is een van die min kunsvorms wat juis met die kind in gedagte beoefen word. En, in my ervaring word hierdie kunsvorm feitlik altyd beoefen deur mense wat regtig vir die kind omgee, en vir die kind se belange, en uiteindelik vir die grootmens en die toekomstige ouer wat eendag uit daardie kind na vore gaan kom. Die soort kinderboek waarvan ek hier praat, het regtig die potensiaal om daai geweldige bom­bardement kragtig te balanseer, teen te werk, en selfs te ontlont.

Daai tydjie wanneer die kleintjie ‘n prenteboek lees, of as dit vir haar gelees word in die veligheid van haar ouer of oppasser of onderwyser se arms, is soos ‘n veilige eilandjie in ‘n wye en chaotiese oseaan – ‘n tydjie van kalmte. Die informasie kan sonder vrees ingeneem en verteer word, en, in die kind se eie tyd – met groot ogies en opgehoue asem.

Byvoorbeeld: ‘n Kind met ‘n probleem, of dit nou ‘n regte probleem of ‘n verbeelde probleem is, kán troos en sterkte kry as hy of sy kan lees oor ‘n ander kindjie, of selfs ‘n diertjie, wat in dieselfde situasie is. Dan kan hy of sy ook die innerlike krag opbou om soortgelyke situasies vorentoe te hanteer.

Die kleuter kan leer om vrese te hanteer – vrese soos Waar’s my Mammie? of Daar is ‘n monster onder my bed! Sodoende kan hy dan die sekuriteit kry wat gaan help om hom vorentoe te neem na sy volgende stadium van ontwikkeling.

Die kleintjie, met die hulp van die regte stories of kinderboeke, kan leer hoe om die skool-boelie te hanteer. As hierdie kleintjie dan die les behoorlik geleer en vir die toekoms geabsorbeer het, dan sal daardie selfde mensie, later in sy of haar lewe, weet hoe om verskeie situasies beter te hanteer; hoe om vooroordeel te hanteer, of mishandeling, of rassisme, of hoe om met die wêreld rondom ons om te gaan, met die natuur, met mense wat oënskynlik anders is as jy. Hy of sy kan leer van geduld, verdraagsaamheid, vrese, onsekerhede, skuld en onskuld, self-respek, self-vertroue  -  nóg ‘n eindelose lys.

As mens in gedagte hou dat elke skrywer en elke illustreerder self eendag ‘n kind was, en dat hulle gewoonlik uit persoonlike ervarings en uit eie herinne­ringe put, dan verstaan mens hoekom daar ‘n toepaslike geïllustreerde storie is vir feitlik elke situasie waarin die jong kind hom of haar kan bevind.



Met dit alles in gedagte, kom ons kyk vir ‘n oomblik na die estetiese ontwikkeling van die jong kind. Ek praat nou van wat algemeen bekend staan as “goeie smaak”.

Prenteboeke speel sonder enige twyfel ‘n rol in die estetiese ontwikkeling van jong kinders. Ek het gepraat oor die ontwikkeling van ‘n sosiale en ‘n kogni­tiewe bewussyn en die aanleer van kodes van sosiale gedrag en optrede, maar daardie kinders wat gelukkig genoeg is om met stories groot te word en met hoë-kwaliteit geïllustreerde prenteboeke, sal ook ‘n visuele gevoel ontwikkel van hoe om ruimte en gestalte en vorm te gebruik – hulle mag selfs, soos hulle groter word, goeie smaak ontwikkel...

Hierdie kinders sal ook ‘n visuele geletterdheid ontwikkel, wat in die regte wêreld netso belangrik is as verbale geletterdheid. En as ‘n mens regtig, volledig geletterd gaan wees, dan moet jy ook visuele simbole en visuele boodskappe vlot kan lees, en nie net woorde nie.

Maar daar is selfs meer:   deur die spontane interaksie met die estetiese eienskappe en die skoonheid van ‘n illustrasie, kom daar ook ‘n sekere bevryding – dis asof jy binne-in die prent in ontsnap en die wrede ou wêreld buite los. ... Ontsnap - en dan ervaar die kind ‘n ander wêreld, ‘n wêreld wat verby die grense van die kind se eie omgewing strek en verby sy of haar eie klein verwysings-wereldjie. Om te ontsnap ... om jou gedagtes te  verbreed. Weereens, vir die kleintjies,  is dit net moontlik deur die visuele beelde. Die illustrasies help die teks om die storie ‘n werklikheid te maak.

‘n Illustrasie in ‘n kinderboek dra informasie en emosie op ‘n unieke wyse oor. Dit kan selfs help met die vermoë van ‘n groeiende kind om sy of haar eie kreatiwiteit te ontwikkel en sodoende, uiteindelik die vermoë om lateraal te kan dink. Dit kan ‘n rol speel in die kind se ontwikkeling van eie-inisiatief-vaardig­hede. As die kleintjie, byvoorbeeld, ‘n sekere waardigheid raaksien in ‘n karakter wat met estetiese skoonheid gïllustreer word, dan kan dit help met ‘n proses van humanisering in die kind se jong gemoed. Só kan die illustrasies in ‘n kinderboek bydra tot die ontwikkeling van ‘n sekere menslikheid in die indiwiduele jong leser se ontluikende persoonlikheid. Deur die manier waarop die illustreerder die onderwerp hanteer, deur subtiele kommunikasie van informasie en emosie, kan die illustrasie selfs negatiewe stereotipiese bood­skappe en etikette waaraan die kind blootgestel is, ontlont en teenwerk. ‘n Bekende voorbeeld wat in baie kinderstories na vore kom, is die ou aanname: “Alles wat mooi is, is goed, en alles wat lelik is, is sleg.” Maar selfs ‘n baie jong kindjie, as hy of sy ‘n goed-geïllustreerde uitgawe lees van die ou sprokie oor Beauty and the Beast, sal hulle gou-gou leer dat dit doodgewoon nie waar is nie.

Nog ‘n voorbeeld is hoe jong lesertjies, deur sensitiewe illustrasies in ‘n boek, bewus kan raak van die fisieke skoonheid van die natuur en die wêreld rondom ons. Hulle kan ook leer van sy kwesbaarheid. Hierdie jong lesertjies mag dan ‘n gesonde respek en ‘n liefde vir die omgewing ontwikkel – Ou Moeder Aarde het deesdae ‘n bietjie gesonde respek nogal broodnodig... Dit kan natúúrlik ook gedoen word deur die kinders op natuur-uitstappies te neem, of om vir hulle goeie dokumentêre films te wys, of deur ander media te gebruik, maar ek het al gesien wat die impak van ‘n hoë-kwaliteit geïllustreerde kinder­boek op ‘n sensitiewe jong mensie kan wees. Ek is geneig om met Joseph Campbell saam te stem wanneer hy sê: “...stories are the only lasting way to teach children codes of social behaviour.”  En ek wil onderstreep: ...the only lasting way to teach children codes of social behaviour.” En hierdie sosiale gedrag, of optrede, sluit tog sekerlik die kind se gedrag in teenoor Moeder Natuur en háár wêreld.



Nou wil ek graag ‘n paar oomblikke gebruik om te kyk na hoe ‘n  jong kind eintlik sien. Presies hoe sien hulle iets as hulle daarna kyk?

Die illustrasies in kinderboeke is gewoonlik twee-dimensioneel. En as ons wil verstaan hoe kinders hierdie twee-dimensionele beelde sien, dan moet ons eers kyk na hoe ons, grootmense, sien. Om meer hieroor te verstaan, het ek gaan kyk na die werk van Donald Weisman. Hy’s ‘n professor van Kuns by die Universiteit van Texas. Hy is ook ‘n skilder en ‘n kuns-historikus.  En Professor Weisman het geweldig baie navorsing gedoen oor presies hierdie onderwerp : Ons visuele persep­sie.   Met ander woorde, Hoe sien ons iets? In 1970 het hy ‘n fassinerende boek oor die onderwerp gepubliseer, onder die titel: The Visual Arts as Human Experience.

Weisman beskryf drie verskillende maniere van sien – “vlakke”, of “wyses” of  “maniere” van sien: 1) funksioneel, 2) assosierend, en 3) suiwer. Kom ons kyk nader na die drie maniere van sien:



-         By die eerste, die “funksionele” manier van sien, is daar geen spesi­fieke idees of herinneringe wat betrekking het op die voorwerp wat gesien word nie. En die voorwerp word ook nie verder ondersoek nie. ‘n Voorbeeld van hierdie manier van sien, is wanneer iemand ‘n bal sien wat besig is om na hom aangerol te kom. Hy dink, “Ek moet versigtig wees, anders val ek dalk oor hom!” Hierdie manier van sien, kyk die heeltyd na die toekoms. Weisman noem dit die funksionele manier van sien.



-         By die tweede, die “assosierende” manier van sien, word ‘n hele ketting­reaksie losgelaat wanneer die siener die voorwerp wat gesien word met ‘n woord of ‘n herinnering assosieer. Om weer die bal-voorbeeld te gebruik: Die voorwerp wat gesien word, word onmiddellik gekoppel aan die woord “bal”. Jy sien die bal, en uit jou herinneringe onthou jy, moontlik met plesier, hoe jy met so ‘n bal gespeel het. – Hierdie manier van sien kyk die heeltyd  na, en versamel uit, die verlede. Weisman noem dit die assosierende manier van sien.



-         By die derde, die “suiwer” manier van sien, is ons geïnteresseerd in die estetiese eienskappe van die voorwerp wat gesien word. Hierdie manier van sien is ‘n leer-proses, ‘n ontdekkings­-proses deur die waarnemning van die funksies, die eienskappe, die kenmerke van die voorwerp. Die “suiwer” manier van sien aktiveer ook emosionele reaksie. Ek gebruik weer die bal­voorbeeld: Die een wat sien se reaksie is dalk, “Daardie bal gly met grasie op my af!” OF “Die vorm is ‘n perfekte sfeer!” Hierdie manier van sien, kyk die heeltyd na die hede, die nóú. Weisman noem dit die suiwer manier van sien. En, baie interessant, dís die die manier waarop ons kuns sien as ons daarna kyk.



Om op te som: By die funksionele manier van sien, kyk ons na die toekoms. By die assosierende manier van sien, kyk ons na die verlede. En, by die suiwer manier van sien, kyk ons na die situasie in die hede, die nóú.

Die meeste grootmense, wanneer hulle kyk, gebruik meestal aldrie die maniere van sien gelyktydig. Maar gewoonlik, hoofsaaklik as gevolg van al die visuele geraas en die media-geraas, onderdruk die meeste groot­mense die derde manier van sien, die suiwer manier – hulle doen dit bewustelik of onbewustelik. Soos Weisman dit stel: “One hasn’t the time to sit down and smell the flowers”. Die probleem is dan dat hierdie grootmense geen detail raaksien nie, want hulle is te besig om informasie in te samel en om vooruit te kyk – terwyl hulle na iets kyk, in plaas daarvan om ook suiwer te sien, is hulle brein besig met ander dinge.

Dis baie interessant om te sien dat meer en meer grootmense vandag eintlik besig is om te probeer om weer “to sit down and smell the flowers” Hulle noem dit “awareness” – om die oomblikte ervaar – om ontslae te raak van al die chaos – om ‘n slag net weer te sien. ‘n Toestand van suiwer bewustheid. Dit vat ons heelpad terug na die dae van die hippies – daai dae toe ek ook een was! Daar is regtig ‘n baie eenvoudiger manier om na dit alles te kyk: Gebruik doodgewoon al jou sintuie ten volle!

Nou -  jong kinders gebruik instinktief al hulle sintuie. En Professor Weisman se navorsing het gevind dat die kleintjies die derde manier van sien, die suiwer manier van sien, baie meer gebruik as die funksionele of die assosierende maniere van sien. Hulle zoom onmiddellik in op die detail, en hulle reaksie op ‘n illustrasie is suiwer emosioneel. En mens moet onthou dat emosie ‘n gewel­dige belangrike rol speel in die estetiese verwerking van iets. Die lesertjie identifiseer met die sentrale karakter, of dit nou ‘n kind is, of ‘n dier, of selfs ‘n ander kreatuur – en dan ervaar hulle die hele tyd die storie sáám met hierdie karakter, en in regte tyd. Maar, omdat dit ‘n twee-dimensionele visuele beeld is, en omdat dit nie by hom of haar verbyflits nie, ervaar die kind die storie deur middel van die illustrasie, en teen sy of haar eie, natuurlike pas – teen sy of haar eie, innerlike ritme.


Kom ons kyk nou na ‘n paar duidelike, tasbare elemente van geïllustreerde kinderboeke: Die geïllustreerde kinderboek is ‘n spesiale soort visuele kommu­nikasie wat deur grootmense geskep is, maar wat spesifiek geskep is met die kind in gedagte. Dit is dus een van die min kunsvorms waar volwassenes informasie vat en dit omskep in materiaal wat verteerbaar is spesifiek vir die jong kind.

‘n Belangrike element van hierdie geïllustreerde kinderboeke is dan ook dat hulle gebruik anders is as dié van formele teksboeke. Hulle bied ander moont­likhede. Byvoorbeeld, hierdie geïllustreerde kinderboeke word nie normaalweg gekoppel aan ‘n gegewe tyd of plek– soos die klaskamer – nie. Hulle kan enige tyd nader getrek word – die kind is in beheer! En, baie belangrik, daar is geen beperking op hoe lank of hoe kort die kind die visuele beelde in die geïllus­treer­de boek kan ervaar nie. Het jy al ooit ‘n kleintjie dopgehou wat totaal ver­diep is in ‘n prenteboek – totaal ingetrek in die wêreld van een enkele illus­trasie?

Wanneer mens ‘n boek optel, enige boek, dan is jou heel eerste indruk die illustrasie (as daar een is) op die buiteblad. In die geval van ‘n geïllustreerde kinderboek, is dit die emosionele prikkel van die tekening op die buiteblad wat die kind in die boek intrek. Die buiteblad moet die storie reflekteer, maar dit moet ook ‘n element van misterie hê, wat die potensiële lesertjie gaan aantrek en gaan laat wonder. Vir my is ‘n buiteblad altyd bietjie soos ‘n plakkaat – dit moet van ver af aandag trek, en as dit dan van nader bekyk word, moet daar so ‘n bietjie toordery aangaan... Die onderwerp, die figuur of figure, die vorms, die kleure, moet die kind uitnooi om die boek oop te maak en te probeer verstaan  waaroor dit alles gaan en wat dit beteken. Binne-in die boek moet die eerste prentjie lei na die teks, na die storie, en ván die teks, na die volgende prentjie, en so aan... Dan neem die pas en die ritme van die teks en die prentjies oor, en die kind word al met die storielyn langs gedra, tot by die finale ontknoping.

Wanneer ek begin om ‘n prenteboek vir ‘n storie te beplan, dan besluit ek heel eerste oor die grootte en die formaat. Die mees algemene formate is “portrait”, “landscape” en “square”, maar daar is natuurlik al die ander formate tussen-in ook. Normaalweg laat ek my deur die storie lei –die storie se ritme en sy energie laat my intuïtief aanvoel watter formaat ek moet gebruik. Daar is geen vaste reëls nie, maar gewoonlik dui die storie self vir my aan watter formaat om te gebruik. Byvoorbeeld, as die storie oor die sterre gaan, dan vind ek gewoonlik ‘n “portrait”-formaat die beste. Of, sê maar die storie gaan oor ‘n reis... dis dalk ‘n fisieke reis. Of dalk ‘n geestelike reis. Of dalk het die storie regtig ‘n vinnige pas, en dit beweeg vinnig vooruit... Dan vind ek dat die “land­scape”-formaat gewoonlik die beste werk. En as die storie intiem of saggies of stil is, dan vind ek dikwels dat die “square”-formaat goed gaan werk. Die storie vertel my self in watter formaat dit graag vertel wil word. Dieselfde geld vir die grootte van die boek: Wil die storie graag vertel word in ‘n groot, luidrugtige, dramatiese boek? Of wil dit graag ‘n kleiner, meer intieme, stiller ervaring wees?

Die volgende ding om te beplan, is presies hóé die storie oor die volgorde van bladsye gaan ontwikkel en gaan afspeel. Onthou, ‘n prenteboek is nie net ‘n verstandelike ervaring nie; dit is ook fisieke ervaring. Die hantering en die omblaai van die bladsy, vorentoe óf agtertoe, is deel van daardie ervaring. Die kind ervaar onmiddellik die drama van die boek se grootte en formaat, en dan word die omblaai van die bladsye deel van die opwinding van die ontvouende storie. Die prenteboek-illustreerder teken nie net prentjies om die teks van ‘n storie te dekoreer nie, hy of sy ontwerp ‘n hele boek – ‘n boek wat ‘n vlieënde tapyt gaan word wat die jong lesertjie dwarsdeur die hele storie gaan vervoer en meevoer. Om te kan besluit watter deel van die teks op watter bladsy gaan pas, moet jy mooi kyk na die sleutel-elemente van die storie en bepaal presies hoe hulle gaan inpas in die vasgestelde aantal bladsye wat die boek gaan hê. Die gang, die visuele ritme van ‘n prenteboek speel dikwels ‘n sleutelrol in die boek se sukses of mislukking – die illustreerder van ‘n storie word soos ‘n musikant wat ‘n stuk musiek vertolk; sagter speel en harder, sterker speel en minder sterk. Of soos ‘n film-maker wat ‘n draaiboek skiet, wat in-zoom of wat uit-zoom, wat losweg sny of wat minder losweg sny... Die illustreerder gebruik kleur en vorm en ruimte om die leser dwarsdeur die reeks bladsye te lei, heelpad, tot by die storie se finale ontknoping.



Dit is dus duidelik dat die illustrasies in ‘n kinderboek, of in ‘n prenteboek vir kinders, die storie na die volgende vlak moet dra. Die verhouding tussen die woorde en die prente is kompleks. Maar dit is ook uniek. Die woorde en die prente moet mekaar altyd aanvul – nooit dupliseer nie. Moet nooit in woorde sê wat sterker deur ‘n illustrasie gesê kan word nie. En moet nooit illustreer wat sterker in woorde gesê kan word nie.

Kom ons kyk nou kortliks na ‘n paar verskillende soorte kinderboeke. En kom ons spring weg met prenteboeke en geïllustreerde storieboeke.

In ‘n perfek-geskonstrueerde prenteboek kan die woorde nie alleen staan nie, en die prente ook nie – hulle is totaal afhanklik van mekaar. Die prente is nie volledig nie, en die woorde ook nie, totdat hulle saamgebring word. Eers wanneer hulle saam staan, dán vertel hulle die hele storie – dan maak hulle die magic!

 Maar die geïllustreerde storieboek, is heeltemal iets anders; Al is daar moontlik ‘n illustrasie op elke bladsy, kan die storie hier op sy eie staan. Dit kán, sonder die illustrasies, gelees word en verstaan word. Die illustrasies word hier bygesit om visueel ‘n gevoel van plek en van ruimte te skep en ook om die teks verder aan te vul.

Soos die kinders groter word, beweeg hulle aan, van die storieboek na die leesboek. Leesboeke is baie soos storieboeke en ook dikwels volledig geïllustreer, maar in húlle word die teks baie versigtig geskryf, spesifiek met die oog daarop om die kind te help om self te leer lees.

En dan, soos die kinders nóg groter word, beweeg hulle aan, van leesboeke na hoofstuk-boeke. Nou word die boeke langer, die lettergrootte word kleiner, die stories word meer-en-meer ingewikkeld en die illustrasies word al minder.

Daar is ‘n genre wat vir my, persoonlik, baie opwindend is. Dit is die prente­boek vir ouer kinders. Hierdie boeke dek dikwels taamlik ingewikkelde onder­werpe. Ek het al baie van hulle gesien wat pragtig geïllustreer is. Al mag die spesifieke onderwerp dalk ingewikkeld en uitdagend wees, is daar gelukkig baie sensitiewe en hoogs-bekwame skrywers en illustreerders wat hierdie boeke heel toeganklik en goed verteerbaar maak vir die jong lesertjies.



Om af te sluit: Daar is baie verskillende tipes geïllustreerde boeke wat spesifiek bedoel is vir kinders. Ek het hier probeer fokus op die verskillende funksies van die illustrasies in die verskillende tipes kinderboeke. Maar, wat die tipe ookal is, die illustreerder het ‘n sleutelrol om te speel in die skepping van daai boek. En, veral in die geïllustreerde storieboek  en die prenteboek is die illustrasies ‘n groot rol.

Die vraag is al baiekeer vir my gevra: Hoe weet jy of ‘n illustrasie goeie kwaliteit is? En dis natuurlik iets waaroor ek al baie diep nagedink het...

Oor die jare het ek ‘n hele paar kinderboek-illustreerders raakgeloop wie se werk ‘n groot indruk op my gemaak het. Hulle is kollegas wat ek bewonder. Ek bewonder hulle oorspronklikheid, hulle verbeeldingskrag, die diepte in hulle werk, en veral die feit dat hulle hulle werk doen spesifiek vir die kind – of dit alles nou bewustelik is, of onbewustelik.

Ek het die briljantheid gesien in die eenvoud van hulle werk. Ek het die ritme raakgesien en ek het die kragtige verhaal ontdek wat opgesluit lê in die beelde wat hulle skep .. in die min woorde ... die moedige kreatiwiteit van hulle werk.

Maar die één, enkele element wat die sterkste vir my uitstaan, is dat hulle illustrasies altyd lyk asof hulle lewe. Dit is die passie van hierdie illustreerders wat duidelik uitgestraal word uit die illustrasies wat hulle maak – asof daardie passie opgeneem word in die visuele beeld en dit laat lewe.

Daai passie waarvan ek praat, word, op een of ander manier, ‘n energie wat duidelik in hulle werk weerspieël word, of hulle nou net ‘n paar lyntjies gebruik (soos Shel Silverstein of Quentin Blake), en of hulle nou luukse en weelderige, kleurvolle illustrasies skep (soos Trina Schart Hyman of David Wiesner). ...

Dis nie ‘n maklike vraag om te beantwoord nie, maar as ek ‘n kort antwoord kan gee, dan sou ek sê: Laat ‘n kind jou vertel of die illustrasie goed is of nie. My vier-jaar-oud-klieindogter  sit eendag en sy kyk vir ‘n baie lang tyd na die­selfde illustrasie in een van haar prenteboeke. En uiteindelik, sonder dat sy opkyk, vra sy saggies, “Ouma, is dit lewendig?” En toe weet ek dat die illustrasie ‘n goeie een is. My tweede, drie-jaar-oud kleindogterjie, raak nou-die-dag totaal verdiep in ‘n illustrasie. Sy’t lank gesit en daarna gekyk. En, uiteindelik, na ‘n hele ruk, toe sy omblaai, toe trek sy haar asem in ... en toe fluister sy, “wow!”



Baie dankie.

My Reis as ’n Kinderboekskrywer/illustreerder - 2011



Deur Marjorie van Heerden
Julie 2011 - PowerPoint praatjie - ATKV Skryfskool in Johannesburg 

Wat kan ek julle vandag vertel?
Julle het na hierdie kongres gekom om te leer hoe om kinderboeke te skryf en te illustreer.
Professor DJ Opperman het vir sy eerstejaarklas gesê,
“Ek kan jou help om te leer hoe om woorde te spel en wat daardie woorde beteken. Ek kan jou selfs leer hoe om rympies te maak. Maar ek kan jou nie leer hoe om ‘n digter te word nie.”
Nouja, uit my eie ondervinding kan ek jou help om te leer hoe om ‘n potlood te gebruik. Of hoe om prentjies van kinders te teken. Maar dit gaan nie van jou ‘n kinderboek-illustreerder maak nie.

Ek kan jou ook help om te leer hoe om ‘n storie aan mekaar te sit of hoe om dialoog te skryf. Maar dit gaan nie van jou ‘n kinderboek-skrywer maak nie.

In die heel eerste plek is ‘n kinderboek-skrywer ‘n storie-verteller. Jy vertel die storie met woorde, of jy vertel die storie met prentjies, of jy gebruik woorde en prentjies saam. Maar wat van jou so ‘n storie-verteller maak, is dit wat binne-in jou kop aangaan. DIT maak van jou ‘n kinderboek-skrywer  ...  dit wat binne-in jou kop aangaan. Binne-in jou kop moet jy kan oor-kliek na die wêreld van die kind. Daardie kind wat met opgehoue asem na jou woorde sit en luister of wat met groot, blink ogies na jou prentjies kyk. Jy moet kan losbreek van die kettings van jou ouderdom, jou grootmens-wees. Dop jouself binnekant buite. Vat hande met die kind wat bínne-in jou lewe ... en dán eers kan jy ‘n leë vel papier vat en begin om die storie te vertel en die prentjies te teken.

Hoe doen mens DIT?, vra julle my dalk.   Kan ek vir ‘n kursus inskryf?  Hoe het JY geleer om jouself binnekant buitentoe te dop? Om hande te vat met die kind wat binne-in jou lewe? Hoe moet ék te werk gaan om dít wat hier bo in my kop aangaan op ‘n leë vel papier neer te sit?
Ek het regtig baie hard hieroor nagedink. En toe besef ek:  Soos Opperman, kan ek nie vir julle sê presies wat om te doen of hoe om dit te doen nie. Maar ek wou vir julle IETS kom vertel... en toe draai ek om en kyk terug oor my eie lewe, oor die meer-as-dertig jaar wat ek my al voltyds besig hou met kinderboeke skryf en illustreer. En al wat ek kan doen (as ek so terugkyk oor my eie reis as ‘n kinderboekskrywer en –illustreerder), is om met julle ‘n klompie oomblikke te deel, ‘n klompie van daardie baie spesiale oomblikke, daardie WOW-oomblikke, wat mý gehelp het om my eie werk, my eie gedagtes, my eie insigte, na die volgende vlak te neem.

Op my reis was daar baie sulke oomblikke. Maar, as ek so terugkyk, is daar party van daardie oomblikke wat bo die ander uitstaan. En die fassinerende ding van daai uitstaan-oomblikke is dat hulle almal met boeke te doen het, of met die mense wat daardie boeke gemaak het.
Nou wil ek julle almal nooi om vir ‘n rukkie saam met my te kom. En dan neem ek julle op ‘n deel van my reis. En dan wys ek julle die boeke en dan vertel ek julle van die oomblikke wat my geraak het, of liewer, daardie oomblikke wat my ingesluk en in hulle towerkrag verteer het.

Hier is die heel eerste boek wat ek duidelik kan onthou. Dis The Story of Ferdinand wat die Amerikaanse skrywer Munro Leaf in 1936 geskryf het. Ek onthou dat ek omtrent vier jaar oud was toe my ma Ferdinand vir my gegee het.
Meer as ‘n halwe eeu later besef ek wat ‘n diep, diep impak hierdie boekie op my gehad het. Êrens in my jong bewussyn was ek gefassineer deur die interaksie tussen woord en beeld. Ek onthou hoe ek urelank deur daai boekie gekyk het en hoe ek mal was oor lyne soos “His mother saw that he was not lonely, and because she was an understand¬ing mother, even though she was a cow, she let him just sit there and be happy.” Ek onthou dat party van die illustrasies ver weg tonele gewys het, met groot, oop, wit ruimtes op die res van die bladsy en ander illustrasies was van naby figure wat die bladsy heeltemal vol gemaak het. Ek onthou dat ek ook tekeninge soos dít wou maak.

As kind het ek al agtergekom dat my disleksia dit moeiliker maak om met woorde te kommunikeer, as met tekeninge… Toe begin fokus ek daarop om myself liewer uit te druk deur prente te teken. Ek het agtergekom dat tekeninge my idees net so goed, indien nie beter nie, as woorde kon uitdruk. Ek het daai tyd selfs ‘n paar boekies gemaak… en dit het alles begin by ‘n klein bulletjie wat baie lief was daarvoor om die blomme te ruik.

Baie jare later het ek uitgevind dat The Story of Ferdinand (uitgegee in 1936, drie jaar vóór die Tweede Wêreldoorlog) een van die heel eerste anti-oorlog prenteboeke is wat ooit gepubliseer is, indien nie die heel eerste nie. En daardie boekie is vandag nog steeds in druk!
Hierdie prenteboek, met sy sterk onderliggende boodskap, het ‘n groot invloed op my gehad. So, in die sestigs was Johann (nou my man en die pa van ons twee kinders) en ek natuurlik ook “flower children”. Maar ons het nie geprotesteer teen een of ander oorlog ver weg in Suidoos-Asië nie – óns protes was teen ‘n ongelooflike bangmaak-ding hier in ons eie land, ‘n ding wat hulle genoem het “apartheid”. Die sestigs het oorgevloei na die sewentigs en my kop het gezoem van allerhande gedagtes en idees ... anti-oorlog, anti-apartheid, anti-seksisme ... Daardie jare was ek ‘n skilder en ‘n beeldhouer en ek het probeer om my gevoelens in my werk uit te druk.

Maar die manier waarop ek na die wêreld om my gekyk het, het verander met die geboorte van my kinders. Ons dogter is in 1977 gebore en ons seun in 1980. Hulle het my fokus teruggebring na kinder-literatuur. Ek het begin om prenteboeke vir kinders te illustreer en later ook te skryf en illustreer.
My heel eerste gepubliseerde kinderboek-illustrasies het ek vir Alida Potgieter van Human & Rousseau in 1983 gedoen.
Alida was die eerste een wat ‘n kans met my gewaag het en dis Alida wat my beroep as ‘n professionele illustreerder geloods het.

Oor die volgende twee jaar het ek nog twee boeke vir haar geïllustreer, en toe, aangemoedig deur haar en my man het ek, aanvanklik baie aarselend, ook begin om te skryf – Johann het altyd my disleksiese spelling en grammatikale foute vir my reggemaak.
Die eerste storie, Die een groot bruin beer is in 1984 gepubliseer.

Ek was angsbevange. Ek het totaal onbeholpe gevoel. Ek MOES net meer uitvind oor hierdie werk! Ek het na boeke begin soek om my te help. Maar oor die boeke wat ek wel gevind en gelees het, het ek gevoel, “hulle het dit net nie reg nie!” – “dit voel nie asof hulle kinders regtig verstáán nie!”

Die boeke wat ek oor kinder-literatuur gelees het, was... “patronizing”! Skryf ou storietjies vir ou kindertjies en teken ou prentjies daarby as dekorasie! Dis tog nie ál waaroor dit kan gaan nie! Ek het onthou wat Ferdinand, die Bul aan my gedoen het toe ek vier jaar oud was. Ek het aanhou soek...
En toe kom ek af op ‘n boek, The Art of Maurice Sendak deur Selma Lanes.
Met Sendak kon ek identifiseer. En met die probleme waarmee hy geworstel het toe hý begin het om kinderboeke te skryf en te illustreer.
Ek het ure lank deur sy boeke sit en kyk... boeke soos Where the wild things are... en  In the night kitchen...
Ek het die briljantheid van hierdie boeke se eenvoud gesien. Ek het hulle ritme aangevoel. En ek het die kragtige storie gesien wat ingebou was in Sendak se baie min woorde.
En ek het besef dat ‘n goeie prenteboek netso veel op die visuele staatmaak as op die woorde – indien nie selfs méér so nie. Dit lyk miskien “obvious”, maar jy sal verbaas wees oor hoe baie skrywers, selfs kinderboekskrywers, nie hiermee saamstem nie.

En toe begin ek kinder-prenteboeke versamel... en bestudeer – letterlik derduisende van hulle. Soveel as wat ek my hande op kon lê. My persoonlike versameling is vandag meer as dertig-duisend. Ek het totaal gefassineerd geraak oor hoe kragtig hierdie genre is.
Ek het verlief geraak op mense soos Maurice Sendak en die dapper kreatiwiteit van hulle werk. En ek het gedroom daaroor dat ek eendag daardie een, regtig beeldskone prenteboek vir kinders kan maak.

Ons eie twee kinders was nog baie jonk, maar gelukkig was hulle altwee baie flukse “lesertjies” - op daai ouderdom natuurlik in aanhalingstekens, maar nogtans het hulle gesorg dat ek die perfekte lab gehad het waar ek die nuwe prenteboeke kon toets wat ek ontdek het.
Ek het begin om te verstaan wat hierdie werk eintlik behels en ook die verantwoordelikheid wat die inhou – my instink het my vertel dat hierdie baie belangrike werk is.
Die ontstellende werklikheid is dat ‘n pasgebore babatjie soos ‘n skoon wit vel papier is – gereed vir grootmense om op te begin skrywe. En dwarsdeur sy of haar kleintyd word daardie kindjie gebombardeer deur die media, deur advertensies, deur verpakkings, deur die TV -boodskappe wat ons nie regtig vir ons kinders wil hê nie. Kinders leer deur na te aap. Hulle word nie wreed gebore, of onverdraagsaam, of rassisties of anti-Semities nie. Hulle leer deur na te aap, om die voorbeelde na te aap - en ongelukkig leer hulle dan ook die slegte saam met die goeie.

Die kinder-prenteboek is een van die min kunsvorms wat spesifiek met die kind in gedagte gemaak word, en deur mense wat regtig vir kinders omgee. Sulke boeke kan hierdie bombardement in ‘n groot mate balanseer.

Omdat ek van nature baie nuuskierig is en omdat ek gefassineerd was om te sien hoe my kinders die wêreld ontdek, het ek agtergekom dat hulle vermoëns het wat grootmense nie noodwendig het nie, byvoorbeeld hulle baie skerp sintuie, hulle natuurlike kreatiwiteit... Vrae het aanhoudend by my opgekom, soos, Hoekom verloor so baie mense hierdie vermoëns soos hulle ouer word?  -  Ek wou regtig verstaan...
Maar ek het sterk verskil van die soort goed wat party van ons Suid-Afrikaanse kinderboek-kenners te sê gehad het. Hier was mense met vaste idees en wat nooit bevraagteken is nie. My instink het vir my gesê dat hulle verkeerd móét wees as hulle dinge sê soos: Jy kan nie oor die dood praat in boeke vir jong kinders nie, en jy moet altyd altwee die ouers wys. Boeke vir jong kinders moet altyd sterk, helder kleure hê. Jong kinders moet nét boeke in hulle moedertaal kry, anders sal hulle deurmekaar raak. Ek het selfs gehoor dat alle fantasie weggehou moet word van jong kinders, anders kan hulle Sataniste word! Drie-jaar-oud Sataniste ??
As ek aan daai jare terugdink, dan laat ek myself dink aan die Engelse uitdrukking: Fools rush in where angels fear to tread.  Ek het goed instinktief aangevoel, maar ek het geen bewyse gehad nie – so ek het meestal maar stil gebly.

En toe glimlag die engeltjies op my! 
Johann het besluit om vir sy sabbatsjaar by Northwestern University in Chicago te gaan werk, en toe gaan woon ons in Amerika vir bietjie meer as ‘n jaar. En dís waar ek vir die eerste keer kontak gemaak het met wêreldbekende kinderboek-skrywers en –illustreerders  -  en hulle werk leer ken het.

Ek het ook mense ontmoet soos Ethel Heins, daai tyd die redakteur van The Horn Book Magazine. Met haar warmhartigheid en vrygewigheid het Ethel my uiteindelik in die regte rigting beduie. Sy het my vertel watter kongresse om by te woon, watter mense om mee kontak te maak... Sy sou vir my iemand se kontak-details gee en dan sê sy, “Sê net vir hulle Ethel Heins het gesê jy moet met hulle praat.” Dit het natuurlik baie deure vir my oopgemaak, want Ethel is beskou as ‘n Kinderboek-Guru in Amerika.
Sy het baie keer vir my gesê, “You MUST read the works of...”  En dis hoe ek mense ontmoet het soos Joseph Campbell... baie, baie invloedryke Amerikaanse mitoloog, en skrywer en lektor.
Bruno Bettelheim... prominente kinder-sielkundige en skrywer.
En Ursula le Guin... die wonderlike skrywer, roman-skrywer, digter, skrywer van kinderboeke, essays, kortverhale en veral, briljante skrywer van fantasie en sci-fi. Die ongelooflike diepte in haar werk...
En toe ek die kongresse begin bywoon, toe besef ek dat ek gladnie so odd is nie! Ek onthou baie duidelik hoe ek eendag by die opening van ‘n kongres gesit het en toe ek so in die saal rondom my kyk, toe besef ek dat ek omring is van mense presies soos ek! En op daai oomblik het ek besluit dat ek in Suid-Afrika ons eie Kinderboek-Kongres gaan organiseer en dat ek al die regte Kinderboek-mense in Suid-Afrika in een saal bymekaar wil bring!
Nóg ‘n baie belangrike ding het by daardie kongres gebeur; ek het ‘n lesing bygewoon deur Joseph Schwarcz... Hy was een van die mees gerespekteerde kinderboek-navorsers in die wêreld. Baie hoog aangeskryf in sy eie land, Israel, maar ook in die res van die wêreld, veral in Duitsland en Engeland en Amerika. Sy lesing daai dag was oor hoe prenteboeke die ontwikkeling van ‘n jong kind beïnvloed. En terwyl Joseph Schwarcz, ná jare-en-jare se akademiese navorsing, so briljant al sy bevindinge formuleer, het ek besef dat hierdie man besig is om baie van die dinge te bevestig wat ek instinktief aangevoel het, my eie, private gut-gevoelens. En terwyl ek so na hom sit en luister het, het ek besluit om op te hou om altyd my eie idees en gedagtes vir myself te hou. Vorentoe, as ek sterk genoeg oor iets voel, dan gaan ek dit sê ... selfs al ís ek verkeerd.

Ek was op ‘n mission...

Ek het al die boeke gelees wat Ethel vir my aanbeveel het. Ek het ‘n studie gemaak van hoe die jong kind se gemoed ontwikkel, en hoe hoë-kwaliteit kinder-prenteboeke soveel meer kan wees as net vermaak. Hoe een, enkele prenteboek kan saamwerk om ‘n kind se denkwêreld te help vorm – hoe dit selfs kan help om van daardie kind ‘n regte omgee-grootmens te maak. Onthou vir Ferdinand die Bul!

Ek het iets geleer wat in Afrika oor duisende jare niks nuuts is nie, maar wat vandag tog lewensbelangrik geword het: Ek het geleer dat stories die manier is om kinders te vertel hoe ‘n mens behoort te lewe - stories, legendes, mites: Soos Joseph Campbell dit sê, “...stories are the only lasting way to teach children codes of social behaviour.”  ...Codes of social behaviour! Hoe belangrik is DIT nie in die ontwikkeling van die jong kind se lewens-benadering nie!
Ek het ook geleer dat my job – Om ou storietjies vir ou kindertjies te skryf en om dan ou prentjies daarby te teken – dat dit in werklikheid baie belangrike werk is, en dat dit ernstig opgeneem behoort te word...

Daardie jaar in Chicago was baie waardevol; die kinderboek-kongresse, die storievertel-groepe, die skywer-sirkel... Ek het die hoofkwartier van Book Link besoek. Ek het baie, baie vriende gemaak. Kinderboek-mense word baie maklik vriende – hulle is gewoonlik daai soort mense.
Joseph Schwarcz het gespesialiseer in navorsing oor die illustrasies in kinderboeke en dan die sielkundige uitdrukking in kinders se eie kunswerke. Ek het sy boek, Ways of the Illustrator: Visual Communication in Children’s Literature oor-en-oor gelees en ongelooflik baie daaruit geleer. Hier is een aanhaling:
“Do not let us treat children’s literature as a well-kept garden, thus robbing it of it’s nature as a windswept field.”
Dis hierdie boek van Joseph Schwarcz wat my bevry het van die grense om altyd net te doen wat veilig is... In daai tyd het ek A tiger took me to the circus geskryf en geïllustreer.
Hoe ookal - Ná ons tyd in Chicago het ons teruggetrek Stellenbosch toe en oor die volgende klompie jare was ek gelukkig genoeg om boeke te illustreer vir ‘n paar uitstekende kinderboekskrywers en ek was ook baie gelukkig om ‘n hele paar prenteboeke wat ek self geskryf en geïllustreer het, te publiseer, soos die Korrelkonfyt-reeks (The Peanutbutter Series) in die laat-Tagtigs.
Korrelkonfyt was die groot, groen hoof-karakter in dié stories.

Terug in Suid-Afrika het ek maandelank gesukkel om mense te oortuig dat ons ‘n Suid-Afrikaanse kinderboek-kongres moet hou. Dit was nou regtig ‘n opdraande stryd. Maar uiteindelik het ek iemand ontmoet wat gedink het soos ek. Professor Jeanne Tötemeyer het klas gegee by die Information Science and Library Department by die Universiteit van die Wes-Kaap. En sy was in die posisie om my droom te laat waar word.
En dit is dan hoe die heel eerste Internasionale Kinderboek-simposium in Afrika ‘n werklikheid geword het – dit was in Julie 1987. Ons het die Simposium genoem: Towards Understanding – Op Weg na Begrip.

Ons het vyfhonderd-en-vyftig mense by ons simposium gehad en ek het dit reggekry om ‘n klompie briljante internasionale gas-sprekers te kry – en een van hulle was Joseph Schwarcz, wie se lesing ek in Amerika gehoor het en wie se boeke my soveel beïnvloed het.
Gedurende ons kongres het Schwarcz aangedring dat ek my boeke vir hom wys. Ek was ontsettend skaam en selfbewus, maar toe doen ek dit tog. Hy het my boeke saam met hom geneem en in sy eie tyd na hulle gaan kyk. Toe ons later ontmoet, het hy my eenkant geneem, eers ‘n paar komplimentêre opmerkings gemaak, en toe begin hy om elkeen van my boekies vir my te ontleed, in die grootste detail en met wonderlike skerp insig. Oor die volgende paar dae het hy elke vrye oomblik saam met my deurgebring en dan het hy met my gepraat oor kinderboeke en oor al die insigte wat hy ontwikkel het oor dekades van hoogs gefokusde studie en navorsing in die veld. In daardie een enkele week het ek meer oor kinder-prenteboeke van hierdie briljante man geleer as wat ek moontlik in ‘n hele universiteitskursus daaroor sou kon leer. Dit was nou regtig een van my groot WOW-oomblikke in hierdie wonderlike ontdekkingsreis!

Die Towards Understanding Simposium het direk gelei na ‘n groter bewustheid van die belangrikheid van hoë kwaliteit boeke vir die kinders van Suidelike Afrika en as gevolg daarvan is daar al ‘n hele paar kleiner simposiums en kinderboek-feeste rondom die land gereël. ‘n Ander, baie belangrike gevolg van die Towards Understanding Simposium was dat dit gelei het tot die stigting van die South African Children’s Book Forum, wat vandag deel van die internasionale IBBY is, en nog landswyd baie goeie werk doen.

Party van my vroeë prenteboeke, soos ‘n Monster in die Tuin, wat in 1987 gepubliseer is, het baie subtiele anti-rassisme en ander boodskappe in die illustrasies opgesluit. In haar dissertasie gebruik Professor Tötemeyer dan ook hierdie boeke as voorbeelde van vroeë Suid-Afrikaanse anti-rassistiese prenteboeke. Maar ek het die meeste van hierdie subtiele boodskappe gladnie bewustelik ingebou nie. Die groot, groen monster in ‘n Monster in die Tuin was gladnie daar om, byvoorbeeld, Alex se selfvertroue op te bou nie. Schwarcz het destyds al aan my verduidelik dat die meeste skrywers of digters daarop fokus om geboorte te gee aan die storie of die gedig en dat hulle onderbewuste gedagtes en insigte gewoon deel van daardie storie of gedig word. Die skrywer raak dikwels eers bewus van al hierdie lae in haar werk wanneer die resensente, of die akademiese navorsers, of die kinderboek-spesialiste die stories in die hande kry. Ek is bevrees presies dieselfde ding gebeur met kinderboek-illustreerders!

Mettertyd het ek baie aktief geraak in plaaslike kinder-literatuur en ek het baie praatjies en werkwinkels gegee. En toe, in 1989, vat my man Johann se werk ons Johannesburg toe. Ons het ‘n pragtige groot huis in Linden gevind. Daar was ‘n enorme tuin...
...en toe bou ons ‘n houthuisie in die agterplaas en ek maak dit my ateljee. In daardie ateljee, onder ‘n groot ou Eucalyptus-boom, het ek vir tien jaar gewerk. Hierdie was tien ontsettend belangrike vormingsjare in my werk as ‘n illustreerder en ‘n skrywer.

Die realiteit is dat, as ‘n mens in Afrika wil werk as ‘n skrywer/illustreerder van kinderboeke, dan kan jy nie verby-kyk by die desperate behoefte aan boeke nie. So, onvermydelik het ek meer-en-meer betrokke geraak by die skepping van boeke vir die opvoedkundige wêreld. Ek moes my droom aanpas – ek moes meer-en-meer boeke maak wat aan sekere behoeftes voldoen. Ek moes my kop uit die wolke trek... My boeke het meer-en-meer op die groot verskeidenheid van kindertjies in Suidelike Afrika begin fokus.

Selfs al het die biblioteke dwarsoor die land altyd my boeke gekoop, het ek besef dat die meeste van Suid-Afrika se kinders nooit ‘n boek sien totdat hulle die dag by die skool inloop nie. En toe raak ek betrokke by projekte wat boeke ge-“workshop” het, boeke spesifiek gemik op kinders in die minder-bevoorregte gemeenskappe en boeke wat spesifiek deur die skole versprei is. So was ek toe in 1990 die mede-skrywer en die illustreerder van Baba’s Plan, die eerste gepubliseerde boek wat in so ‘n workshop ontwikkel is. Dit is deur die READ Organisasie uitgegee. - Sue Hepker het indertyd daai workshops georganiseer. In so ‘n workshop het redakteurs, skrywers, illustreerders en gemeenskaps-werkers almal bymekaargekom en dan workshop hulle nuwe kinderboeke vir die “Nuwe Suid-Afrika”.
Ek en Sue het aangehou om saam te werk. Haar volgende projek was “The Little Library”. Ek was die kuns-direkteur van die projek en ek het ook twee van die boeke geïllustreer.
Hierdie Little Library projek het in 1996 die gesogte IBBY Asahi Reading Award gewen (IBBY is die groot internasionale kinderboek-organisasie wat in 1953 in Switserland gestig is). Die boeke in die Little Library was baie goed, maar op die ou end was daar nie genoeg geld om al die kinders te bereik wat ons graag wou nie.

Oor die jare het ek aangehou om baie boeke te skryf en te illustreer – en die hele tyd het aangehou lees oor kinder-literatuur. Teen hierdie tyd het ek al ‘n hele spul skrywers en illustreerders gehad wie se werk ek bewonder het. Ek sou graag sulke werk wou lewer.
Kom ek wys julle ‘n paar van dié skrywer/illustreerders wat ek bewonder – ek bewonder hulle veral omdat daar soveel diepte in hulle werk is:
Jan Ormerod - het ‘n ongelooflike insig in die manier waarop jong kinders dink. En sy verstaan ook die fisieke liggaam van die kind en presies hoe hulle dit gebruik...
Trina Schart Hyman - met haar betowerende gebruik van kleur en die briljante manier waarop sy die natuur gebruik om atmosfeer mee te skep en te manipuleer...
Helen Oxenbury - en die intense kommunikasie tussen haar karakters. Ook haar fyn begrip van kinders se gevoelens...
Satoshi Kitamura - wat lyk asof hy binne-in die kind se gemoed, sy of haar binneste bewussyn, kan inkruip en dan maak hy tekeninge van wat hy daar binne kan vind en sien...
Tony Ross - met sy heerlike sin vir humor! En nogtans is sy karakters so sensitief...
Anthony Browne - het so baie verskillende lae in sy stories. ‘n Kind lees (of ervaar) ‘n Anthony Browne-storie op ‘n spesifieke vlak en ‘n paar jaar later, soos wat die kind se verwysings-wêreld verbreed, lees sy of hy die storie weer en ervaar dit op totaal ‘n ander vlak! Briljant!
Stephen Lambert - met sy pragtige gebruik van lig en die simplistiese manier waarop hy sy verskillende media gebruik...
Chris van Allsburg – Nou hier is towerkuns! – Hy neem jou na plekke in jou eie kop waar jy nog nooit was nie! – Suiwer, suiwer kreatiwiteit...
...en dan is daar David Wiesner!  Sy werk is nou regtig daai deurmekaar, ongepoetste tuin waarvan Joseph Schwarcz gepraat het – ‘n plek waar enigiets moontlik is en waar enigiets kan gebeur...

Ek het net nege van my gunstelinge gekies om met julle te deel, maar die feit van die saak is dat ENIGE kind wat gelukkig genoeg is om met hierdie soort prenteboeke groot te word, sal besef dat absoluut NIKS in hierdie ou lewe onmoontlik is nie!

Kom ek vertel julle van nog ‘n baie opwindende WOW-moment op my reis: Eendag stuur ‘n vriendin vir my ‘n aansoekvorm vir ‘n beurs. Dit was ‘n beurs om die Highlights Foundation se Children’s Book Writers Workshops in Amerika te gaan bywoon. Ek het dit nie eens ingevul nie – hoe kon ek nou so iets wen? Maar my vriendin het aangehou vra of ek dit al ingestuur het – en toe doen ek dit maar. Niemand was meer verras as ek toe ek die beurs wen nie! En voor ek dit weet, is ek op ‘n vliegtuig na Chautauqua in die noordooste van die VSA.
Die werkswinkels het vir ‘n week lank aangehou - en al die deelnemers was kinderboek-skrywers en –illustreerders. En elkeen van ons het ‘n baie ervare en hoogs bekwame, persoonlike mentor gekry om vir die hele week saam met jou te werk. Tussen die werkswinkels fokus jou mentor dan spesifiek op jóú werk en evalueer dit saam met jou in groot detail, sodat jy jou vaardigheid en jou kuns kan ontwikkel. Ek kon my ore nie glo toe ek hoor dat Ed Young my persoonlike mentor gaan wees nie! Ed Young gaan vir ‘n hele week lank na my werk kyk en dit evalueer. En hy gaan my help om my eie kuns te verbeter!
Ingeval party van julle nie weet wie hierdie geniale man is nie, hier’s ‘n vinnige skets:
Ed Young is een van die beste kinderboek-skrywer/illustreerders in Amerika. Hy het die Caldecott Honors al tweemaal gewen en in 1990 het hy die Caldecott Medal gewen. Baie mense beskou die Hans Christian Andersen Award as die Nobel-prys vir kinderboeke – Ed Young het die Hans Christian Andersen ook gewen ... TWEE keer! – in 1990 en weer tien jaar later, in 2000.

Hy is in 1931 in Sjina gebore en hy het Amerika toe gegaan om argitektuur te gaan swot toe hy twintig was, en toe bly hy daar. Alhoewel hy al van 1951 af in Amerika woon, het hy nog altyd na die lewe gekyk deur Oosterse oë – en mens kan dit ook in sy werk sien.
Ed Young het urelank met my oor mý werk gepraat.  Maar, op ‘n manier, het hy eintlik meer gepraat oor die filosofie wat ágter die skryf en die illustreer van kinderboeke lê. Sy fokus en sy insig was duidelik heelwat dieper as ‘n oppervlakkige, kommersiële benadering tot ‘n mens se lewenswerk...
Dit was waarskynlik onvermydelik dat daai week van ongelooflike workshops, en my onvergeetlike sessies met Ed Young, my goed sou laat kyk na my benadering tot my eie werk. Om die waarheid te sê, my benadering het totaal verander – totaal. Ná daai week in Chautauqua was my werk nooit weer “werk” vir my nie. Ek het ‘n baie spesiale vlak van plesier in my werk bereik – amper die benadering van ‘n avonturier. Ek is die hele tyd gereed om iets nuuts te probeer. Ek het ‘n soort varsheid in my werk ontdek – en verskeie van my redakteurs het dieselfde gesê. Ek was verbaas om agter te kom dat ek skielik nogal heel dapper geword het in my benadering – ‘n soort vreesloosheid. Ek het dinge begin probeer wat ek nooit voorheen sou gewaag het nie.

Ek het begin om die media wat ek gebruik te verander.

Ek het die papier verander wat ek toe al dekades lank gebruik het...

En toe begin ek met my Bright Books.
Dis ‘n leesprogram vir begin-lesertjies. Dit was heeltemal my eie konsep - ek het dit geskryf en ook geïllustreer. Die Brights Books-reeks is deur die opvoedkundige departemente aanvaar en by skole dwarsoor Suid-Afrika voorgeskryf. Dis ‘n projek wat ek nooit voorheen sou aangepak het nie!
Met die Bright Books het ek probeer om dieselfde soort stories te vertel as dié waaroor my eie kinders so mal was. Dit was bedoel as skool-leesboeke, maar my benadering tot die stories en die illustrasies was dieselfde as vir “trade books”. Ek wou ‘n lees-kursus maak wat sports was vir die kindertjies.
Ek het probeer om lees-boeke met die atmosfeer van prente-boeke te maak - boeke wat ‘n bydrae kon maak. Ek wou boeke maak wat die kinders kon help om uit te breek uit die bose kringloop van swak onderwys en armoede. Boeke wat hulle kon help om hulle selfbeeld te verbeter. Boeke wat hulle kreatiwiteit en hulle eie inisiatief kon prikkel. Boeke wat hulle kon help om “Codes of Social Behaviour” aan te leer. Wat ek eintlik wou doen, was om boekies soos The Story of Ferdinand te maak.
Vir die Bright Books projek het ek ‘n in-diepte studie gemaak van hoe kinders leer. Ek het ook die curriculums ontleed en al die verskillende ontwikkelings-areas van die jong kind geanaliseer. En toe sit ek dit alles eenkant neer - en ek fokus daarop om lekker stories te skryf. Lekker stories wat elke area van die jong kind se ontwikkeling kan dek. Hierdie projek het my ses jaar van baie harde arbeid gekos...

En toe... Dis was ‘n Desember-aand: Ons dogter, Alexia, was by die huis van UCT af en ons seun, Markus, was net klaar met matriek en ook van plan om by UCT te gaan swot - Toe laat val Johann ‘n bom in die sitkamer: “Wat sal julle sê as ek en Mamma vir vier jaar of langer in Griekeland gaan bly?” Hy het daai tyd vir M-Net gewerk en hulle het hom ‘n kontrak by ‘n suster-maatskappy in Athene aangebied. As ons dit sou aanvaar, moes hy op 1 Maart 1999 in Griekeland begin werk – dit was nét meer as twee maande later.

Dit was twee baie besige maande! Toe ek weer grondvat, het ons sak-en-pak getrek na ‘n pragtige huis in Euripides [EF-RI-PI-THOE] Straat 21, Dionysos [THEE-Ó-NI-SOS]. Dionysos is in ‘n pragtige inheemse dennewoud bo-op ‘n berg omtrent 30 kilometer noord van Athene se middestad. En die berg bestaan uit soliede wit marmer.
Die huis se sonnige solderkamer was perfek vir ‘n kunstenaar se ateljee. En die vensters het noord gekyk, in die rigting van Marathon en Thessalonika.

Op ‘n helder dag kon ek van my werktafel af uitkyk oor vyf bergreekse, tot by die Parnassos-gebergtes, waar Delphi teen die hange sit. As ek my oë toemaak kon ek die Orakel by Delphi hoor dreun-sing en ek kon Zeus se arende hoor roep soos hulle oor die dak bo my kop terug-vlieg na die Naeltjie-van-die-Aarde in die middel van die Orakel se heiligdom in Delphi.
En toe pak ek my kinderboek-biblioteek uit en ek pak al my kuns-materiale uit en ek voel die oer-oue towerkrag van Antieke Hellas orals om my... Dit was baie anders as die towerkrag van Afrika, wat my vroegste invloed en inspirasies was.
My liewe vriendin, Joan Rankin – julle sal almal Joan se pragtige kinderboeke ken... in elk geval, - Joan het die normale ses sintuie wat alle vroue het, maar dan het sy nóg ‘n paar! Toe ek haar vertel ons trek Griekeland toe, was haar heel eerste reaksie, “I wonder how your illustrations will change?” Joan het ‘n wonderlike, intuïtiewe begrip van die lewe en van die wêreld waarín ons lewe. En toe verduidelik sy vir my dat sy glo dat wáár ‘n mens ookal lewe, dat jou kreatiwiteit ook beïnvloed word deur die sterre en hulle kosmiese effek. Ek was gefassineer... Ek kon nie wag om te sien óf en hóé haar teorie in mý geval gaan werk nie.
In die duisend-jaar-oud natuurlike woud rondom ons huis op die berg in Dionysos groei die inheemse dennebome gladnie so vinnig, of so regop soos in die ingevoerde denne-plantasies hier in Suid-Afrika nie. Daai bome groei stadig en hulle vleg hulle pad rustig op na die son.
Uit my ateljee op die boonste verdieping kon ek die sonstrale deur die dennenaalde sien speel en soos lang vingers die vloer van die woud sien raak. Die vyf bergreekse wat ek kon sien, was almal in verskillende skakerings van blou en die kleure het minuut-na-minuut deur die dag verander. My stories en my illustrasies het die invloed van die kleure, en die lig, en die skaduwees rondom my begin optel.

Die Gode van die Griekse Mitologie het my duidelik met ope arms verwelkom en het op my geglimlag - ‘n Griekse Uitgewery het vir my drie pragtige kinderboeke gegee om vir hulle te illustreer – die woorde was in Grieks en my illustrasies was in daardie universele taal wat elke kind op aarde kan verstaan.

En terwyl dit alles aan die gebeur was, het ek besef dat Joan se voorspelling besig was om waar te word: In daai laaste paar jare in Johannesburg was ek amper eksklusief besig met die ontwikkeling, die skryf en die illustrasie van opvoedkundige boeke. Ek het met onmoontlike deadlines gewerk en op ‘n manier het ek altyd my deadlines gemaak! Ek het begin vind dat ek meer en meer moes vertrou op my geheue vir verwysings-material en vir kleur en vir lig. My illustrasies het ‘n wêreld begin word waar die klem op karakters geval het wat in ‘n omgewing lewe waar daar baie min werklike of interessante agtergrond is. Die opvoedkundige boeke was belangrik en dit het goed gevoel dat ek ‘n persoonlike bydrae kon maak, maar, op ‘n manier, was my wêreld - as ‘n illustreerder - besig om te krimp.

Maar nou, hier in Dionysos se woude en tussen hierdie berge, het my visie weer begin oopmaak en my verbeelding het weer begin vlieg...
Ek was verwonderd deur die sagte spel van die sonlig in die woud...
Ek kon lae van kleur sien wat afstande baie verder kon wys as wat die oog eintlik behoort te kan sien – baie verder as wat enige foto jou kan wys...
Soms het ek in Athene gaan rondloop. En dan het ek oogkontak gemaak met baie, hartseer honde en ek het draaie moes loop rondom baie meer lui, loom katte. En my sintuie het lewendig geword – om te sien, om te ruik, om te proe, om te hoor – sommer net om die lewe te VOEL. En ek wou dit alles in my illustrasies opvang...
Ek is meegesleur - en ek was honger om te probeer om ‘n spesifieke kleur vas te vang, of ‘n spesifieke beweging wat ek êrens raak-gesien het.
My papier en my potlode en my kryte en verf was nie meer media vir illustrasies nie – hulle was voertuie om my op ‘n reis te neem.
Dit het ‘n obsessie geword om PRESIES uit te werk wat die lig besig is om te doen en presies hoe om die kleure en die lig en die skaduwees rondom my uit te beeld.
En sover dit my stories aangaan; Op ‘n tyd was ek besig om regtig baie te sukkel met ‘n stuk teks. Ons kinders was op besoek in Griekeland en ons het almal oorgery na Delphi vir die dag. Toe besluit ek om my teks saam te neem en weer te probeer terwyl ek in die Orakel se Heiligdom is. Delphi is regtig een van daai magiese plekke waar mense al duisende jare geraak word – plekke soos die Egiptiese Piramides, of die Victoria-waterval, of Meteora, of die Notre Dame-katedraal in Parys. Hierdie is baie spesiale plekke – en vir my, persoonlik, is Delphi baie, baie spesiaal.
Terwyl Johann en die kinders gaan verken het, het ek op die trappies van die oorblyfsels van Apollo se tempel gaan sit en my half-klaar teks uitgehaal.
Dit klink dalk baie corny, maar dis die heilige waarheid: Die muses het agter die bome uitgekom, vir my geglimlag... en die woorde het sommer net begin vloei.
Maar dit was nie net die magiese plekke en die wonderlike tonele en die natuurlike skoonheid wat ‘n rol gespeel het in die veranderinge wat in my kop en in my werk plaasgevind het nie – ek het ook ménse ontmoet wat ‘n groot effek op my werk gehad het.

Ek het ‘n hele paar Griekse kinderboek-skrywers en –illustreerders leer ken. Die een skrywer het my vertel van S C B W I – die internasionale Society of Children’s Book Writers and Illustrators – en toe vra sy dat ek haar moet help om ‘n Griekse tak van die vereniging te stig. Toe doen ek dit. En toe vind ek die SCBWI ‘n baie interessante organisasie... Hulle hoofkantoor is in Amerika, hulle het meer as twintig-duisend lede en hulle is in meer as 40 lande rondom die wêreld.

Terwyl ons in Athene gewoon het, het ek ook die SCBWI se eerste Internasionale Kinderboek-kongres in Griekeland georganiseer. Ons het dit op die beeldskone eiland Hydra gehou.
Ons tema was May the Myth be Your Muse en op die ou-end was dit groot sports. Ons was gelukkig om uitstekende sprekers soos die briljante skrywer/illustreerder Tony Ross te kry. En daar’s baie min plekke mooier, as hierdie pragtige eiland naby Athene.
Ek onthou ‘n gesprek met Harriett Barton, ‘n art director uit Amerika, wat die Hydra-kongres bygewoon het. Sy het my gewys hoe, wat sy genoem het, “a sense of place” my illustrasies na ‘n ander dimensie kon neem. Met net ‘n paar woorde het sy my laat sien hoe ek al die dinge waarmee ek in my agterkop besig was, kon saambring en in my illustrasies kon insit... Vir my was dit ‘n verstommende oomblik! Soms is dit ál wat ‘n mens nodig het... Nét presies die regte woord op die regte oomblik – en dan val alles in plek...
“A Sense of Place”! Ek het skielik ingesien dat dit nie net ‘n boom is, daar in die agtergrond van my illustrasie nie – dit is ook die skaduwee van die boom, ín die boom en óm die boom – dis die wind wat deur die takke en die blare speel – dis die sonstrale wat elke, individuele blaartjie raak... Dis baie meer... Harriet Barton het dit reggekry om presies die regte knoppie te druk...
Kom ek vertel julle van nóg ‘n WOW-moment:  Gedurende die jare wat Johann en ek in Europa gewoon het, het ons ook taamlik baie rondgereis. Op ‘n slag toe ek New York toe gegaan het, het ek by my ou vriendin Simone Kaplan gaan bly – sy is ook ‘n kinderboek-redakteur. Simone het baie met my oor my werk gesels. En toe sê sy iets... Dis iets waaraan ek elke dag werk, maar sy het dit net skielik vir my onder die mikroskoop gesit en skielik het ek met nuwe oë daarna gekyk. Sy’t gesê, “Kyk ‘n bietjie na presies hoe jy kinders teken. Gaan kyk ook na die kinders in Maurice Sendak se tekeninge...”

Toe doen ek dit.

En toe ek terugkom in Athene, toe gaan kyk ek na die tekeninge van kinders in al my gunsteling prenteboeke (ek het vyftien duisend boeke uit my eie kinderboek-versameling saam-geneem Griekeland toe).
Ek het gekyk na kinders wat in die park speel. Ek het gekyk na foto’s van kinders...
Ek het gekyk na tekeninge van kinders... en ek het gekyk, en gekyk...
En toe begin ek teken.... en ek teken en teken... En toe kliek iets in my kop! Ek het begin om eenvoudige wiskundige beginsels in my tekeninge in te bou. Skielik het dinge wat my vroeër gepla het – wat op die papier net nie reg gelyk het nie - in plek begin val...
Die tekeninge het ‘n energie begin kry wat nie vroeër daar was nie.
Ek kon net nie glo dat so ‘n eenvoudige konsep so ‘n groot verskil kon maak nie!
Ek het terug gegaan na my boeke en die illustrasies en die woorde versigtig ge-analiseer...  Ek het selfs ‘n paar van my boeke oorgeskryf en die illustrasies oorgeteken...

Die vier jaar in Griekeland was wonderlike jare, maar uiteindelik het dit weer tyd geraak om op te pak. My man sê altyd, “As jy by die einde van ‘n hoofstuk kom, blaai om en lees verder. Die volgende hoofstuk is dalk net lekkerder as die een wat jy nou-net klaargemaak het.” Johann kyk nooit agtertoe nie. Hy is gedurig op die uitkyk na wat om die volgende hoek wag. Daar’s nog ‘n gesegde wat hy graag aanhaal: “When you’re on a journey and the end keeps getting further and further away, then you realize that the real end is the journey.”
En toe was dit tyd om op te pak – tyd om die bladsy om te slaan. Die sneeu het swaar op die woud rondom ons huis geval terwyl die pakkers al ons goedjies toegedraai en in ‘n reuse container gepak het vir die lang reis oor die oseaan. En toe ons in Kaapstad aankom, toe skyn die Afrika-son helder! Ons het volsirkel gestap en nou was ons terug in die Kaap, waar my reis oorspronklik begin het. Ons het ‘n heerlike huis in Gordonsbaai gevind en my ateljee is weer in die dakkamer.

En daar’s weer ‘n venster bokant my lessenaar. En nou is die uitsig oor Valsbaai, met die Kaapse Skiereiland op die horison.

So, ná ‘n reis van 15 jaar is ons weer terug in die Kaap – soos vroeër, toe ons ná Amerika weer terug was in die Kaap. Johannesburg en Dionysos was heerlike hoofstukke in my storie, netsoos die VSA vroeër... Maar hier in die mooiste, mooiste Kaap is die lig net so betowerend.
Ons is nou van 2003 af terug, en vandat ons terug is, het ek weer kontak gemaak met baie van my ou vriende - kinderboek-skrywers en –illustreerders. Ek het weer baie bedrywig geraak in die Suid-Afrikaanse kinderboek-wêreld en ek het ook die SA-tak van die SCBWI begin. Ek het weer kontak gemaak met die plaaslike uitgewers en kort-voor-lank was ek baie besig om kinder-prenteboeke te illustreer en soms ook te skryf. Oor die volgende paar jaar was ek ongelooflik gelukkig met die illustrasiewerk wat vir my aangebied is... die meeste van daardie joppies het ‘n bietjie towerkuns nodig gehad.

Oor die laaste paar jaar het ek baie, baie kinders geteken, en towenaars, en feëtjies, en goblins, en gargoyles, en dinosaurusse wat praat, en ‘n Panda-beer, en so baie ander, soveel kreature, baie meer as wat ek kan onthou. En ook monsters! Baie, baie monsters – selfs ‘n delicious monster! En dan kon ek hulle almal plaas in tower-woude, of in enorme kastele vol silwer maanlig, of op die strande van wilde oseane, of onder hulle malende branders. En ek kon die wêreld verf in die kleure wat ek voor lief is.

Enigiets is moontlik as jy ‘n tekenkryt in jou hand het en ‘n leë vel papier voor jou.. Die resep is eenvoudig: Meng saam die skrywer se wonderlike woorde, ‘n goeie knippie van die onmoontlike en ‘n stywe doppie towerkuns. En dan laat jy die ou verbeelding die res doen! Op een-of-ander manier kom die beelde altyd by my uit – ek kry hulle altyd êrens – hulle is orals rondom my; in die stadige skuifel-stap van ‘n ou omie in die Mall; in die wilde rondhollery van ‘n hond op die strand; in die knoestige stam van ‘n oeroue Melkhoutboom...
Michaelangelo het gesê dat die marmerblokke wat uit die myne kom alreeds die figure binne-in hulle opgesluit het – al wat die beeldhouer moet doen, is laat hulle vry! My marmerblokke is dikwels die woorde wat ‘n skrywer vir my deurstuur. Die visuele beelde is binne-in begrawe – al wat ek hoef te doen, is laat hulle vry! Ek glo nogal in towerkuns. En omdat ek in die towerkuns glo, kan ek hierdie beelde help om tussen al daai woorde uit te kruip...

In 2008 het ek en Wendy Hartmann die M.E.R.-Prys gewen vir die beste geïllustreerde kinderboek wat in die vorige jaar gepubliseer is. Nina en Eendjie is deur Human en Rousseau uitgegee, deur Wendy geskryf en ek het dit geïllustreer.
Dit was wonderlik om so erken te word deur my kollegas in die kinderboek-wêreld, maar ek sou dit nooit kon doen as ek nie so passievol was oor my werk nie – dis daai passie wat my die ekstra myl laat loop op hierdie reis waarvan ek julle vandag vertel.
Ek het onlangs Alice se Avonture in Wonderland geïllustreer. André P Brink het Carroll se woorde pragtig in Afrikaans vertaal en hierdie nuwe uitgawe, met mý oorspronklike illustrasies, is uitgegee om André se vyf-en-sewentigste verjaarsdag te vier.
Dit was vir my wonderlik om die haas in die gat af te volg tot binne-in die betowerende wêreld van Alice se Wonderland. DIT is nou ‘n kinderboek-illustreerder se dream-job!

En op die oomblik is ek besig om twee prenteboeke vir ‘n Sjinese Uitgewer te illustreer...
Elke dag teken ek Pandas! En dan wéér Pandas... En nóg ‘n paar Pandas!
Meer as vyftig jaar en meer as ‘n honderd-en-twintig boeke later, en ek is nog altyd ‘n flower child! Dit is steeds my passie om die regte boeke by kinders te kry. Ek voel steeds asof ek aan die begin van my reis is en ek voel baie opgewonde oor wat dalk rondom die volgend hoekie vir my wag... And so the journey continues...

BAIE DANKIE!

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~